Central SA
Gesinne in Noord-Kaap begin huiswaarts keer ná oorstromings─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:51 Thu, 04 Jan 2024
“Die weer het nou opgeklaar, en ons het nie die afgelope twee tot drie dae swaar reën gekry nie.”
Inwoners wat hul huis moes verlaat ná die onlangse swaar reën in die gewoonlik dorre Noord-Kaap, begin hul lewe herbou.
Ongeveer 200 gesinne is deur die oorstromings geraak, wat hul huise en eiendomme in die Pixley Ka Seme-distriksmunisipaliteit beskadig het, terwyl 70 gesinne in Slangpark, Hillside en Hopetown in die Thembelihle-munisipaliteit geraak is.
In die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit en die Joe Morolong-munisipaliteit moes elf gesinne hul huis verlaat. Die rampbestuursentrum is nog besig om die skade te bepaal.

Infrastruktuur en eiendom in die Noord-Kaap is beskadig ná swaar reën. Foto: Facebook
Paaie en elektrisiteit is van die openbare infrastruktuur wat beskadig is in verskeie dele van die Pixley Ka Seme- en Namakwa-distriksmunisipaliteit.
“Die verwoesting en vernietiging wat deur swaar donderstorms veroorsaak is, het Donderdag (28/12) begin,” sê Babalwa Mzambo, woordvoerder van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake.
“Die weer het nou opgeklaar, en ons het nie die afgelope twee tot drie dae swaar reën gekry nie. Die regering gaan voort met hulpverlening aan die gesinne.”

Haelstorms in die Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteit het groot skade aangerig. Foto: Facebook
Mzambo het bevestig dat van die gesinne na hul woonplek begin terugkeer wat in haelstorms beskadig is. Die 30 gesinne het tydelik in die Steynville-gemeenskapsaal op Hopetown gebly waar maaltye en komberse aan hulle verskaf is.
Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het sopkombuise opgerig wat twee maaltye per dag in Hopetown, Langberg en Britstown verskaf.
Die provinsiale rampbestuursentrum koördineer die planne om die ontheemde gesinne in die verskillende gebiede by te staan, en om die nodige ondersteuning te bied.
