Central SA
Tradisionele geneser binnekort in hof ná baba se ontvoering in Welkom─── 10:43 Mon, 08 Jan 2024
“Ouers moet altyd hul kinders naby hulle hou, veral terwyl hulle besig is met hul inkopies.”
’n Eenjarige meisie wat glo deur ’n tradisionele geneser by ’n winkelsentrum in die Vrystaat ontvoer is, is Sondag met haar ouers herenig. Sy was drie dae lank vermis.
Die kind se ma het haar Donderdag as vermis aangemeld nadat sy ontvoer is in ’n winkelsentrum in Thabong, Welkom, sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Volgens Nicole McCain van News24 wys beeldmateriaal van die winkelsentrum hoe ’n man met die kind in ’n motor wegry. Die polisie het alle tradisionele genesers in Thabong besoek totdat hulle ’n wenk oor ’n blyplek in Bronville ontvang het.
"Die kind is veilig gevind en is Sondag na die ouers teruggebring. ’n Man (45) is in hegtenis geneem vir die ontvoering en sal binnekort in die Welkomse landdroshof voorkom," sê Thakeng.
Tholie Afonso, distrikspolisiekommissaris, het ouers versoek “om altyd hul kinders naby hulle te hou, veral terwyl hulle besig is met hul inkopies”.
Enkele dae gelede is twee vroue aangekla omdat hulle na bewering drie kinders oor ’n tydperk van nege maande ontvoer het. Die polisie sê die kinders is in Limpopo, Gauteng en Mpumalanga ontvoer. Wetstoepassers probeer nog vasstel hoekom die kinders ontvoer is.
Die slagoffers is ’n driejarige seun, agt maande oue meisie en ’n vier maande oue meisie. Grace Gumbo (26) en Mercy Tsoko (28) het verlede week in die landdroshof op Kriel verskyn.
OFM Nuus cg/dg/mc
