Central SA
‘Een groot reënbui in Noord-Kaap kan vloedwalle laat meegee’─── 16:09 Mon, 08 Jan 2024
“Tans is daar nog nie enige gevaar nie, buiten dat dit vroeg in reënseisoen is en vloedwalle nie herstel is ná vorige vloede nie.”
“Dit is die vierde jaar in ’n ry wat ons die jaar ingaan met damme wat vol is. Hoewel daar tans geen risiko is nie, kan een groot reënbui vloedwalle laat meegee.”
Só sê Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie. “Die vloedwalle is redelik beskadig ná die laaste drie jaar se sterk vloei, en daar is geen aanduiding dat dit herstel gaan word nie.
“Dit behels ’n groot bedrag wat nie deur die landbouers self opgeneem kan word nie, veral nie ná die skade wat boere die laaste paar seisoene gely het nie.”
‘Skade ná rivier in landerye, wingerde en boorde instoot’
Boere aan die Benede-Oranjerivier het in die verlede skade gely nadat die rivier in landerye, wingerde en boorde ingestoot het.
“Die Gariepdam het op 30 Desember begin oorloop en die Vanderkloofdam sal Dinsdag (9/1) begin oorloop. Die vloeiprojeksie in die Benede-Oranjegebied dui tans op tussen 500 en 600 m3/s (kumek), wat nie ’n probleem is nie, buiten dat dit nog vroeg in die reënseisoen is en riviere reeds sterk vloei.
“Dit hang af van wat die reënseisoen vir ons inhou. Een groot reënbui kan dinge baie vinnig verander en vloedwalle laat meegee. Dit is droog in die Kalahari en groot dele van ons land. Ons hoop maar dat reën op die regte tyd op die regte plek sal val.”

Die Vanderkloofdam sal na verwagting Dinsdag (9/1) begin oorloop. Foto: Twitter/@HKakora
Fourie het die volgende damvlakke vir 8 Januarie verskaf:
- Vaaldam 67,6% (invloei 72 kumek, uitvloei 17 kumek)
- Bloemhofdam 85,2% (invloei 53, uitvloei 34)
- Gariepdam 105,5% (invloei 601, uitvloei 9470)
- Vanderkloofdam 98,4% (invloei 960, uitvloei 374)
