On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Ontsteking eis Vanderbijlpark-ma jaar ná padongeluk

───   14:08 Tue, 09 Jan 2024

Ontsteking eis Vanderbijlpark-ma jaar ná padongeluk | News Article
Tina (35) saam met een van haar dogters. Foto: Facebook/Edwin du Plessis

“Die afgelope jaar was ’n marteling vir haar, maar steeds het sy dapper geveg.”

Tina du Plessis, ’n huisvrou en ma van vyf van Vanderbijlpark, het in die Sebokeng-hospitaal gesterf nadat sy in November 2022 ernstig in ’n padongeluk beseer is. Septiese skok het ingetree nadat ’n beenbreuk wat met penne geheg is, deurentyd ontsteek het.

Vaalweekblad berig Tina (35) se kinders is tussen twee en 18 jaar oud. Sy was op die dag van die ongeluk te voet op pad om brood vir haar gesin te koop toe sy op die kruising tussen die Barragepad en Frikkie Meyer-boulevard deur ’n voertuig getref is.

Sy het hoofbeserings en ’n erge breuk aan haar regterbeen opgedoen en is in ’n kritieke toestand na die Sebokeng-hospitaal geneem. “Sy het twee keer klinies gesterf, maar die Here het haar elke keer vir ons teruggegee,” sê haar man, Edwin.

‘Sy was in ’n stadium vier maande in die hospitaal’

Ná ’n hele paar operasies aan haar skedel kon die dokters uiteindelik aandag aan haar erg beseerde regterbeen gee. Sy was in ’n stadium vier maande lank in die hospitaal. 

Verskeie operasies is uitgevoer om die gebreekte been met penne te heg, maar infeksies het aanhoudend ingetree. Dit het lank geduur vir die oop wond om toe te groei. Sy is uiteindelik huis toe en was van ’n rolstoel afhanklik.

“Die afgelope jaar was ’n marteling vir haar, maar steeds het sy dapper geveg,” sê Edwin. “Sy was altyd hardwerkend en het selfs in haar rolstoel gesit en haar huistake verrig en klere met die hand gewas.”

‘Ek moes my vrou uit die huis uitdra’

Op Oujaarsdag is sy na die staatshospitaal op Sasolburg, maar hulle het haar sonder medikasie huis toe gestuur. “Op 2 Januarie het sy begin opgooi, kouekoors gekry en pyn in haar hele liggaam gehad. 

“Ons het die ambulans halfagt die aand gebel, maar hulle het eers voor eenuur die oggend gekom. Ek moes my vrou uit die huis uitdra, want die ambulansmense wou nie inkom nie. Sy het geskreeu van die pyn.”

Die hospitaal het op 3 Januarie omstreeks 10:00 gebel met die tyding dat Tina gesterf het. “By die hospitaal is ons vertel haar liggaam het in septiese skok gegaan nadat die infeksie deur haar hele liggaam versprei het,” het haar beste vriendin, Desere Guthrie, aan Vaalweekblad gesê.

Tina du Plessis se vyf kinders. Foto: Facebook/Edwin du Plessis.

Edwin is daarvan oortuig sy vrou sou nog geleef het as sy van die begin af beter behandeling gekry het en die regte metaalpenne in haar been ingeplant is. “Wie moet rekenskap gee van ’n ma wat vyf kinders agterlaat?

“Waar kry mens hulp? My vrou het dit nie verdien om so te gaan nie. Al hierdie dinge kon verhoed gewees het. Sy was die beste ma wat enige kind kon vra en nou gaan ons seuntjie haar nie eens kan onthou nie.”

Tina word benewens haar man en hul seuntjie, Dylan-Leon (2), ook oorleef deur vier kinders uit haar vorige huwelik: Aiden (5), Kayleigh (7), Luanne (16) en Angelique Luiters (18). Dylan-Leon sal deur Edwin versorg word en die vier ouer kinders deur Tina se eksman.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.