Central SA
Tiener van Dewetsdorp verlig skryfbehoefte-nood─── KAREN VAN DER BERG 13:39 Wed, 10 Jan 2024

“Ek dink onderwys is so belangrik. Maar al die ekstra benodigdhede maak dit vir sommige ouers, veral enkelouers, onbekostigbaar.”
’n Tienermeisie van die Vrystaat samel op eie houtjie skryfbehoeftes in vir minderbevoorregte kinders omdat sy glo onderwys is die bousteen van die toekoms.
Angelique Buckle (12) van Dewetsdorp is ’n gr. 7-leerling aan die Gekombineerde Skool Zastron. Dit is reeds die derde jaar agtereenvolgens wat sy ’n projek aanpak om terug te ploeg in die gemeenskap. “Ek dink onderwys is so belangrik. Maar al die ekstra benodigdhede maak dit vir sommige ouers, veral enkelouers, onbekostigbaar.”
Angelique gee terug aan die gemeenskap deur haar projekte. Foto verskaf
Sy het besluit om vanjaar items vir kleuterskole in te versamel. “Die rede waarom ek op kleuterskole besluit het, is omdat dit die tyd van ’n kind se lewe is wat hulle soveel leer. Die jare in die kleuterskool is so belangrik omdat dit die fondament van hul onderwys is.”
Sy samel vetkryte, inkleurboeke, legkaarte en leesboeke in. “Dit maak nie saak of dit tweedehands is nie, solank dit net in ’n goeie toestand is sodat kinders dit nog kan gebruik.”
Verlede jaar het Angelique onder meer Parys se Dierebeskermingsvereniging (DBV) bygestaan en goedere vir hulle ingesamel. In 2022 het sy vir tien leerlinge se skryfbehoeftes gesorg. “Dit is vir my belangrik om ander mense te help en te wys dat omgee en liefde deel van ons in Suid-Afrika is,” vertel sy.
Angelique se liefdadigheidsprojek vir 2024. Foto verskaf
Uit die projekte wat sy behartig, leer sy om dankbaar te wees vir wat sy het. “Daar is soveel mense wat sukkel om ’n bestaan te maak. Ek smeek daarom mense in Sentraal-Suid-Afrika om te help en betrokke te raak.”
Haar ma, Madelein Buckle, sê dit is vir haar ’n wonderlike gevoel dat Angelique omgee vir ander. “Sy het soveel respek vir ander mense, ongeag hulle geldelike welstand.”
Haar kind het ook geleer dat niks in die lewe net verniet kom nie. “Maar die wonderlikste is dat sy geleer het om vir ander om te gee.”
OFM Nuus/Karen van der Berg cg