Central SA
Koster: Polisie vra gemeenskap om oorledene te help uitken─── HEIDRÈ MALGAS 14:48 Wed, 10 Jan 2024
“Die man is sonder skoene gevind en sy hande was met ’n kabelbinder vasgemaak.”
Die polisie van Koster in Noordwes vra die gemeenskap se hulp om die oorskot van ’n wit man, wat blykbaar tussen 30 en 40 jaar oud was, te identifiseer.
Geen vorige vermiste persoon se verslag stem ooreen met die man se beskrywing nie, sê Aafje Botma, polisiewoordvoerder. “Die liggaam is Saterdag 30 Desember in ’n sloot langs die R30 (Rustenburg-Ventersdorp) tussen die plase Oakland en Raakvat ontdek.”
‘Sy mond en neus was ook met plastiek bedek’
Sy sê die man is sonder skoene gevind en sy hande was met ’n kabelbinder vasgemaak. Sy mond en neus was ook met plastiek bedek. Die slagoffer het ’n wit T-hemp en blou strandbroek aangehad.
’n Lykskouing moet nog gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Enigiemand met inligting wat kan help om die man te identifiseer, word versoek om Olebogeng Morolodi, ondersoekbeampte, by 076-510-9112 te bel of die Stop Misdaadnommer by 08600-10111. Wenke kan ook anoniem na die MySAPS app gestuur word.
OFM Nuus dg
