On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Aanklagte teen een beskuldigde ná moord op 16-jarige laat vaar

───   HEIDRÈ MALGAS 14:50 Wed, 10 Jan 2024

Aanklagte teen een beskuldigde ná moord op 16-jarige laat vaar | News Article
Die vermeende moordenaars van ’n tienermeisie van Bloemfontein. Foto: FS Online Channel Plus

“Die gemeenskap van Mangaung moet verstaan dat die terugtrekking van die saak teen die beskuldigde nie beteken dat die saak afgehandel is nie.”

Een van die beskuldigdes in die moordsaak van ’n Bloemfonteinse tiener is ’n vry man nadat die landdroshof aanklagte van moord, ontvoering en afpersing teen hom teruggetrek het.

Die liggaam van Machaka Radebe (16), ’n leerder aan die Hoërskool Brebner in die noorde van die stad, is op 4 Desember 2023 gevind in ’n veld naby haar ouerhuis in Bloemfontein.

Ntai Letaba, senior openbare aanklaer wat belas is met die saak, het vroeër met die gesin van die slagoffer vergader en hulle is ingelig oor die redes en waarom 'n besluit geneem is deur die NVG om die aanklagte teen die beskuldigde terug te trek, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Lehlohonolo Thomas Rankuotsana word intussen wel positief verbind met OTM-rooftogte, berig Free State World. Die gewese sekuriteitswag het op 6 November in dieselfde landdroshof verskyn vir beweerde diefstal van R570 000 by verskeie OTM’s in die Vrystaatse hoofstad.

Machaka se gesin het haar op 2 Desember as vermis aangemeld. Haar liggaam is twee dae later ontdek, en die polisie is ingelig.

“Ondersoeke het gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes, onder wie Lehlohonolo. Die gemeenskap van Mangaung moet verstaan dat die terugtrekking van die saak teen die beskuldigde nie beteken dat die saak afgehandel is nie,” sê Senokoatsane.

Hoogs ervare en goed opgeleide ondersoekbeamptes in die polisiediens lei steeds die ondersoek om te verseker dat haar moordenaar(s) aan die pen ry.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.