Central SA
Polisie soek ooggetuies van noodlottige Vanderbijlpark-ongeluk─── 14:44 Mon, 15 Jan 2024

Dié kruising is berug vir die talle noodlottige ongelukke wat daar plaasvind.
Die polisie van Vanderbijlpark is op soek na ooggetuies van ’n ongeluk wat die lewens van ’n tienermeisie en haar vriend (22) geëis het.
Die ongeluk het omstreeks 21:00 op 8 September by die “kruising van die dood” tussen die R42 (Barragepad) en die R57 (Goue Hoofweg) gebeur. Dié kruising is berug vir die talle noodlottige ongelukke wat daar plaasvind.
Roné Groenewald (17) en haar vriend was die Vrydagaand op pad huis toe ná ’n kerkbyeenkoms toe hulle in hul swart Geely in ’n ongeluk met ’n metaalkleurige Cherry Tiggo Pro 4 betrokke was. Die twee jong mense is op die toneel dood verklaar. Die insittendes van die Cherry het die ongeluk oorleef.
Die berugte “kruising van die dood” waar die ongeluk plaasgevind het. Foto: Google Maps
‘Daar is geen berusting’
Roné se ma, Ronel, sê op Facebook sy is verbitterd omdat daar steeds geen duidelikheid is oor die omstandighede rondom die ongeluk nie. “My hart is stukkend en ek kan nie berusting vind sonder om uitsluitsel te kry oor presies wat die ongeluk veroorsaak het nie.”
Roné was ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Driehoek.
Enigeen wat die ongeluk sien gebeur het, word versoek om sers. Phake by 066 569 1305 te kontak, of Ronel by 078 504 9551.