Central SA
Noord-Kaap skoolgereed op alle fronte─── 14:19 Tue, 16 Jan 2024
“Ons doen ’n beroep op die publiek om ons te laat weet as hulle vervoerprobleme in hul gemeenskappe ervaar.”
Noord-Kaapse staatskole is gereed vir die 2024-skooljaar.
Dié paraatheid is die gevolg van ’n bestuursplan wat die departement ontwikkel het om uitdagings rakende die toelating van leerders, die verskaffing van leer-, onderrig- en ondersteuningsmateriaal en die aanstelling van personeel die hoof te bied, sê Geoffrey van der Merwe, departementele woordvoerder.
‘100% van die bestellings is uitgevoer’
Sowat 99% van die totaal van 23 813 aansoeke vir die 2024 skooljaar is geplaas. ’n Aanlyn-toelatingstelsel is van stapel gestuur om laat aansoeke van 8 tot 16 Januarie te behartig.
Die bestelling van leer-, onderrig- en ondersteuningsmateriaal het in Augustus geopen en skole het die keuse gehad om hul bestellings sentraal of direk van verskaffers te kry. Altesaam 343 skole het die sentrale opsie gekies en 100% van die bestellings is uitgevoer.
If you haven’t applied, please do so to secure a space for your child in the 2024 school academic year. @DBE_SA @ElijahMhlanga @dbetvnews @NCProvGov pic.twitter.com/INICA1zq47
— NC Dept of Education (@NCape_Education) January 8, 2024
Vanjaar kan 26 776 leerders staatmaak op vervoer via 446 roetes wat deur 240 diensverskaffers dwarsoor die provinsie se vyf distrikte bedryf word. “Ons kan bevestig dat al die roetes Woensdag operasioneel sal wees.
“Ons doen ’n beroep op die publiek om ons te laat weet as hulle vervoerprobleme in hul gemeenskappe ervaar,” sê Van der Merwe.
Van die 378 poste wat geadverteer is, is 238 gevul. Dertien poste het weggeval weens ’n daling in leerdergetalle en 118 poste word weer geadverteer. As ’n oorbruggingsmaatreël is 1 937 tydelike leerkragte op die departement se stelsel.
“Ons is besig om aanstellings af te handel om te verseker dat alle leerkragte aan die einde van Januarie betaal word,” sê Van der Merwe.

Noord-Kaapse skole is gereed vir 2024 se skooljaar.
Die departement het parlementslede, Noord-Kaapse LUR’e, lede van die Nasionale Raad van Provinsies en lede van die Provinsiale Wetgewer asook burgemeesters en raadslede uitgenooi om môre se opening van skole in alle uithoeke van die provinsie te moniteer.
“Ons wens alle leerkragte, leerders en ondersteunende personeel die allerbeste toe vir die 2024 akademiese jaar,” sê Van der Merwe.
