Central SA
EFF vra geduld nadat myn by Bloemhof slegs 3 inwoners werk gee─── 08:30 Wed, 17 Jan 2024
“Indiensneming van plaaslike inwoners is ’n sleutelkwessie.”
Die EFF in Noordwes vra inwoners van Bloemhof om geduldig te wees nadat ’n nuwe myn in die gebied slegs drie plaaslike mense in diens geneem het.
Justice Dabampe, adjunksekretaris van die EFF in Noordwes, wat ook as lid van die burgemeesterskomitee van die Lekwa-Teemane-munisipaliteit dien, het aan OFM Nuus gesê die mynmaatskappy doen tans slegs kleinskaalse ontginning en dit is die rede waarom slegs drie inwoners aangestel is.
Hy het Maandag (15/1) ’n oorsigbesoek aan die myn op Klipfonteinplaas 334 gebring. Die myn het prospekteerregte van die Departement van Mineralebronne bekom en is sedert Augustus besig met ontginning.
‘Die indiensneming van meer inwoners is ’n sleutelkwessie wat aandag moet kry’
In Desember het ’n groep inwoners hul ontevredenheid uitgespreek en aangevoer dat die maatskappy besig is met onwettige ontginning omdat die regte proses om mynregte te bekom glo nie gevolg is nie.
Dabampe sê hy is nie tevrede met sy besoek nie, aangesien baie vrae ontbeantwoord gelaat is. Hy kon ook nie werklik sien watter werk gedoen word nie weens foutiewe masjinerie op die terrein.
“Die indiensneming van meer plaaslike inwoners is ’n sleutelkwessie wat aandag moet kry. Ons sal binnekort weer met die eienaar vergader om te verseker die projek sal die gemeenskap bevoordeel en dat minstens 50% van die personeel plaaslike inwoners is."
