Central SA
Leerders moet nuwe skooljaar met sorgvuldige beplanning aandurf─── ELSABÉ DE JAGER 08:00 Wed, 17 Jan 2024
“Skep vir jouself ’n haalbare roetine, wat genoegsame slaap, ’n gesonde dieet en oefenprogram insluit.”
Elke leerder kan vanjaar ’n eie geleentheid skep om die nuwe skooljaar vasbeslote aan te durf, ondanks uitdagings en onsekerhede.
Die nuwe skooljaar sal uiteraard verskil van 2023, maar dit bied ’n geleentheid om dinge selfs béter as in die verlede te doen, sê Elana Kriel, dosent aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Deur vasbeslotenheid monitor ’n mens die ontwikkelingspad wat jy loop. Jy hou so ook deurentyd jou oog op die eindpunt waar jy dankbaar en tevrede sal kan terugkyk.
Bly op die hoogte van voorskrifte rakende die aankope van skoolklere en –benodigdhede, is Kriel se raad. Skaf slegs die nodigste aan. Dit kan deur die loop van die jaar aangevul word. Merk en organiseer jou boeke kleurryk, wat dit aangenaam sal maak om daarin te werk.

Begin jou skooljaarreis met vasbeslotenmheid. Foto: Freepik
Rig ’n aangename huiswerkruimte in. Goeie beligting, skryfbehoeftes en hulpbronne wat maklik bereikbaar is en ’n rekenaar en drukker tot jou beskikking, vergemaklik die voltooiing van jou take. Kikker die ruimte op met ’n potplant en prente.
As jy bewus is van vakke wat vanjaar voortbou op die vorige jaar se inhoud, sal dit gewens wees om daardie aantekeninge ook byderhand te hou.
Skep vir jouself ’n haalbare roetine, wat genoegsame slaap, ’n gesonde dieet en oefenprogram insluit. So sal jy jou energie optimaal kan gebruik. ’n Skoolrooster en ’n maandbeplanner sal ook help met doeltreffende tydsbenutting.
Kommunikeer met jou ouers oor die haalbaarheid van nuwe aktiwiteite wat die aankoop van sportklere, toerusting en vervoer sal behels.

Die skooljaar bied ’n geleentheid vir elke leerder om nuwe vriende te maak. Foto: iStock
Ontspanning behels veel meer as om op die naat van jou rug met jou vriende op die foon te gesels. Buitelugkuiers saam met jou vriende en familie verlig alledaagse spanning en kweek ’n goeie lewensbalans.
Deur beplanning, deurentydse fokus op rigtingwysers, versorging van jou eie welsyn en die bereidwilligheid om raad te vra, bied aan jou die nodige energie om as gelukkige mens deur die jaar te stap.
OFM Nuus/Elsabé de Jager mc
