Central SA
Staptog op Vanderbijlpark vir lyers aan veelvuldige sklerose─── ELSABÉ DE JAGER 14:29 Wed, 17 Jan 2024

Sy het ’n daadwerklike besluit geneem om solank as wat sy kan, staptogte aan te pak om hoop vir ander lyers te bring.
Veelvuldige sklerose (VS) is ’n toestand wat die immuunstelsel van die brein en spinale koord aanval. Al is dit ’n wrede uitdagende siekte, ontvang ons daagliks genade.
Rozaan Steyn (38), by wie VS in 2020 gediagnoseer is, het besluit geen siekte sal haar onderkry nie. As diep gelowige ervaar sy genade en krag met elke tree wat sy gee. Sy het ’n daadwerklike besluit geneem om solank as wat sy kan, staptogte aan te pak om hoop vir ander lyers te bring. Sy het die roete teen Tafelberg op onlangs suksesvol voltooi en reeds ’n paar Sasol marathonwedlope op haar doenlys afgemerk.
Belangstellendes landwyd kan op hierdie dag deelneem aan die staptog. Foto verskaf
Met die bystand van haar ouers, Lukas en Ansie, asook twee vriende, Elré en Gerrie, het Steyn aan die werk gespring om ’n staptog te organiseer, wat opgedra word aan lyers wat verlede jaar oorlede is.
Op 27 Januarie om 07:00 begin die staptog oor 3 km by die Emerald Casino op Vanderbijlpark. Steyn sê, hetsy met kieries, looprame of in rolstoele, almal wat aangedui het dat hulle die tog gaan aanpak, berei reeds met groot opgewondenheid voor.
Enigeen, waar ook al in die land, kan op daardie oggend, geklee in oranje, die kleur van die VS-logo, met vriende of troeteldiere 3 km ver gaan stap, en saam met al die dapper lyers dink aan dié wat hulle vooruitgegaan het, ook aan hulle naasbestaandes.
Niks kan hiedie lyers se geesdrif demp nie. Foto: Facebook
Steyn se boodskap aan alle lyers is om elke dag met hoop, genade en liefde aan te pak en te wéét dat daar altyd hulp beskikbaar is.