On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse Vrouebediening rus vroue geestelik toe

───   ELSABÉ DE JAGER 08:00 Thu, 18 Jan 2024

Vrystaatse Vrouebediening rus vroue geestelik toe | News Article
Die termyn van die Vrouebediening se taakspan, wat toerustingsgeleenthede moontlik maak, is vier jaar. Foto verskaf

Sy hoop om vanjaar meer van die jonger vroue by hul toerustingsgeleenthede te betrek.

Haar droom vir 2024 is om geleenthede te help skep waar vroue opnuut hul waarde kan besef en geestelik toegerus kan word vir ’n lewe vol uitdagings.

Vir Béneli Pretorius, voorsitter van die Vrouebediening in die NG Kerk Vrystaat, is die Vrouebedieningskonferensie wat van 16 tot 18 Februarie in die Amanzi-wildreservaat buite Bloemfontein plaasvind, inderdaad ’n byeenkoms waar vrouelidmate hulself geestelik kan verryk en die geleentheid kan geniet om medegelowiges te ontmoet.

“Alle vrouelidmate van ons Vrystaat-gemeentes is deel van die Vrouebediening,” sê Pretorius. Die taakspan van dié bediening skep jaarliks tydens die konferensie vir vroue ’n veilige en koesterende ruimte waar hul geloof versterk kan word, sodat hulle dit opnuut in hul gemeenskap kan gaan uitleef.

Die jaarlikse konferensie is ’n geleentheid waar vrouelidmate mekaar kan ontmoet. Foto verskaf

Pretorius vertel heelwat wanpersepsies heers oor die Vrouebediening. “Die grootste is om gemeentes te laat besef dat die Vrouebediening nie ’n spysenieringskomitee is nie,” glimlag sy, “maar dat ons in die eerste plek wil omsien na die geestelike behoeftes van ons vrouelidmate.” 

Sy hoop ook om vanjaar meer van die jonger vroue by hul toerustingsgeleenthede te betrek.

Groot opgewondenheid heers ook oor die nuwe Vrouebedieningslogo wat onlangs bekendgestel is. “Die doel was om dit vroulik en professioneel te laat vertoon en so aan te pas in die korporatiewe wêreld. Dit skakel ook in by die kleure van die visioneringsnetwerk van die NG Kerk Vrystaat,” vertel Pretorius.

Die tema van verlede jaar se konferensie was ‘Om tot verhaal te kom’. Foto verskaf

Die tema van vanjaar se konferensie is “Deel van God se storie”. Prof. Kobus Schoeman, 20 jaar lank NG predikant en tans verbonde aan die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is die hoofaanbieder. Hy is werksaam in die veld van gemeentestudies en leierskap, en fokus veral op die interaksie tussen gemeenskap en gemeente. Dr. Nina Muller van Velden, dosent in Nuwe Testament, verbonde aan die Fakulteit Teologie en Religie aan die UV, sal die medeaanbieder wees.

Gevra of vroue wat nie lidmate van die NG Kerk is nie, ook die konferensie mag bywoon, antwoord Pretorius dat elke vrou wat die behoefte het om deel te neem aan hierdie verrykingsproses, meer as welkom is.

Die nuwe logo is met die hulp van die kommunikasie- en bemarkingsafdeling nuut ontwerp. Foto verskaf

Vir prof. Kobus Schoeman is dit belangrik vir vroue om saam te kom en te gesels, na te dink en te besin oor hul rol in die samelewing. Vir hom is vanjaar se konferensie as’t ware ’n voortbou op dié van 2023. Die tema, “Deel van God se storie”, dui op ’n naweek vol verhale. Dit bied ook aan vroue die geleentheid om na God se verhaal te luister en Hom in elke eie verhaal raak te sien.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.