Click on the warning image to view this post
Central SA
Tiener van Vaaldriehoek moedig nadat hings haar byt─── KAREN VAN DER BERG 15:08 Thu, 18 Jan 2024
“Sy moes later terugkeer vir ’n veloorplanting. ’n Dag of wat daarna ek het bekommerd geraak oor die slegte reuk van die vel.”
Sy is steeds baie lief vir perde en kan nie wag om weer op haar perd, Bubbles, te klim nie.
So vertel Annelize Momberg, ma van die tienerdogter Chantelize van Dyk (15), wat drie weke gelede deur ’n buurman se hings gebyt is. Chantelize se beserings was só erg dat sy ’n veloorplanting moes kry.
Annelize sê die voorval het op 28 Desember op die gesin se kleinhoewe, Boltonworld, by Meyerton plaasgevind. “Chantelize en haar sussie, Kelsy (9), wou gaan perdry. Ons bure het ’n paar hingste, wat vroeër oor die draad met ons merries baklei het.”
Chantelize wou net die boonste draad wat af was, tydelik regmaak omdat sy bang was die hings klim oor na haar merries. “Toe sy aan die draad wou vat, het die hings haar oor die draad gebyt en haar opgetel. Haar vel het uit sy mond uitgeskeur en sy het aan haar hare aan die draad vasgesit.”

Die wond ná die steke. Foto verskaf
Sy en Kelsy het vreeslik geskree. Dié draad is sowat 300m van die huis af.
Hulle stiefpa, Ben Momberg, het dit gehoor en gaan help. Die egpaar het die kinders probeer kalm hou en het met haar na die Midvaal-hospitaal in Vereeniging gehaas. “Daar is sy gestabiliseer en die nodige inspuitings vir pyn gegee.”
Chantelize is toe oorgeplaas na Steve Biko-hospitaal in Pretoria omdat die gesin nie nou ’n mediese fonds het nie. Haar wonde is onder narkose skoongemaak en sy het steke gekry. Indien die vel nie vanself weer sou heg nie, sou sy ’n veloorplanting moes kry.
“Op 1 Januarie is hulle terug na dié hospitaal toe. Daar is vasgestel dat die vel nie weer wou groei nie en besig was om dood te gaan. Sy moes op 8 Januarie terugkeer vir ’n veloorplanting. ’n Dag of wat daarna ek het bekommerd geraak oor die slegte reuk van die vel,” het haar ma gesê.

Chantelize ná die veloorplanting. Foto verskaf
Sy is toe met Chantelize na Cormed-ongevalle toe. Daar het hulle haar antibiotika gegee. Twee dae later het hulle gesê die vel is dood. Die kwotasie om haar in ’n privaat hospitaal te behandel en die veloorplanting te doen het R300 000 beloop.
Annelize is toe terug Steve Biko toe, maar daar was nie beddens beskikbaar nie. “Teen die tyd was ek desperaat en moes my kind help.”
’n Dokter by die MediVillage in Vereeniging het gehelp om ’n afspraak by ’n spesialis by Mediclinic in Vereeniging te kry.
Chantelize het verlede Vrydag (12/1) die veloorplanting hier gekry. Twee groot stukke vel uit haar regterboarm is aan haar arm oorgeplant.
“Tot dusver lyk dit of die operasie baie suksesvol was. Dit gaan onder die omstandighede goed met haar. Dit is net vir haar sleg om stil te lê,” sê Annelize.
Chantelize sal nie binne die volgende maand kan terugkeer skool toe nie. Die risiko vir infeksie is nog te hoog. Sy is in gr. 10 aan die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton. “Maar sy glimlag moedig.”
Die hings is intussen van kant gemaak.
• Die finansiële implikasies op die gesin is enorm en ’n Backabuddy-geldinsameling is begin om die gesin hiermee te help.
OFM Nuus/Karen van der Berg cg
