Central SA
Theunissen-inwoners ‘maak geskiedenis’ met optog – VIDEO'S─── KAREN VAN DER BERG 15:50 Thu, 18 Jan 2024
“Ons kan nie so aangaan nie. Ons het water nodig!”
Uit slegte situasies kom daar wel nog goeie dinge. Daarvan is die gemeenskap van Theunissen ’n voorbeeld nadat die hele dorp Donderdag (18/1) saamgestaan, ’n vreedsame optog gehou en saam die boodskap duidelik aan die plaaslike regering oorgedra het: Ons kan nie so aangaan nie. Ons het water nodig!
Só vertel inwoners hier wat reeds 35 dae, oftewel vyf weke, nie water het nie en die optog meegemaak het.
OFM Nuus het vroeër berig oor die watersuiweringsaanleg hier wat op 13 Desember geplunder en leeggedra is. Dit het gebeur nadat die veiligheidsmaatskappy wat die aanleg opgepas het, glo nie betaal is nie en gevolglik die perseel verlaat het.
Sedertdien is krane hier leeg en is inwoners desperaat vir antwoorde en inligting. Dinge het al so erg geword dat kinders langs die hoofpad hier staan en bedel vir water.

Inwoners van Theunissen het opgeruk om antwoorde oor hul waterkrisis te eis. Foto verskaf
Die optog was baie beter as wat hulle verwag het, sê Manus Putter, sake-eienaar, en kan as geskiedkundig bestempel word. Nagenoeg 2 000 mense het deelgeneem. Al die ondernemings op die Vrystaatse dorp het gesluit van 11:00 tot 14:00.
“Dit het ordelik gebeur, geen skade is aangerig nie en daar is ’n sterk boodskap aan die Masilonyana-munisipaliteit oorgedra. Mense van alle rasse het saamgesing en selfs die winkeleienaars wat uitlanders is, was daar.”
’n Inwoner wat verkies om anoniem te bly, sê: “Die optog was selfs nog beter as wat ons verwag het. Die orde en beheer was merkwaardig vir enige groot groep. Die mense het van al die kante van die dorp saamgestaan en saaamgewerk om ’n kragtige boodskap oor te dra.”
Sy sê daar is groot waardering vir elkeen wat kom deelneem het. “Van nou af begin ons skryf aan ’n nuwe storie. Ons gaan ons nie verder laat boelie deur mense in gesagsposisies wat nie hulle plig en oorsig uitvoer nie.”
Een van die gemeenskapsleiers, Tsepo Maredi, sê om waterloos te wees is baie moeilik. Hulle probeer antwoorde kry, maar daar is geen, sê hy. “Daar is ’n paar watertenks, maar dit is nie genoeg nie. Ons het deurlopend water nodig.” Hy sê hulle is so moeg vir die leë beloftes.
’n Memorandum is oorhandig waarin daar geëis word dat water verskaf sal word.
OFM Nuus/Karen van der Berg cg

“Dit het ordelik gebeur, geen skade is aangerig nie en daar is ’n sterk boodskap aan die Masilonyana-munisipaliteit oorgedra.” Foto verskaf
