Central SA
Deo Gloria-gemeenskapskoor sing ’n nuwe lied in Vredefort-omgewing─── ELSABÉ DE JAGER 09:26 Fri, 19 Jan 2024

’n Ware hoogtepunt op die kalender is die Kersaanbieding saam met soliste, orrelspel en orkes wat al om die twee jaar in die NG Kerk Vredefort plaasvind.
’n Gemeenskapkoor in die Noord-Vrystaat nooi weer belangstellendes in die omgewing van Parys, Vredefort, Viljoenskroon, Koppies en Potchefstroom vir ’n oudisie om vanjaar deel te wees van dié uitsonderlike koorfamilie.
Die Deo Gloria-gemeenskapskoor, wat sy eerste klanke in 1999 laat hoor het, staan onder leiding van Erna Rademan en Marli Krüger. Danksy deurlopende vennootskappe met ander kore strek die gebied van optrede selfs nog wyer as Vredefort en omgewing. Krüger sê oor vorige optredes op dorpe soos Bothaville, Kroonstad en Oberholzer word steeds met groot lof gepraat.
Op 17 Augustus vanjaar tree dié koor op saam met die Oostenrykse jeugkoor.
’n Ware hoogtepunt op die kalender is die Kersaanbieding saam met soliste, orrelspel en orkes wat al om die twee jaar in die NG Kerk Vredefort plaasvind. “Dit het vir my gevoel of ek op die stoep van die hemel staan,” en: “Vrede vir Vredefort” is van die kommentaar wat steeds vandag op sosiale media die ronde doen ná die Kerskonsert van November 2022.
Gevra oor enige ouderdomsbeperking vir deelname, stel Krüger dit duidelik dat koorlede se ouderdomme wissel van 14 tot 75; dus word ’n “tydlose” uitnodiging gerig.