Central SA
Bloemfonteinse matriekmeisie slaag goed ná 3 breinoperasies─── KAREN VAN DER BERG 15:32 Mon, 22 Jan 2024
“Toe ek my punte kry, het ek in trane uitgebars.”
Soms kan die onmoontlikste situasies moontlik word. Daarvan kan ’n Bloemfonteinse tiener getuig.
Danika Smith was verlede jaar ’n leerling aan die Sekondêre Meisieskool Oranje en het matriek met ’n 69%-gemiddeld geslaag nadat sy weens ’n siektetoestand slegs ’n maand van gr. 12 bygewoon het. In vier van haar vakke het sy boonop ’n B-simbool verwerf. Sy het drie breinoperasies in haar matriekjaar ondergaan.
Danika vertel ’n siektetoestand wat te veel vog op haar brein meebring, is reeds in 2012 by haar gediagnoseer. Dit veroorsaak hoofpyn en braking en haar balans en sig word daardeur beïnvloed. Dokters het gesê daar is geen manier wat sy haar matriekjaar in 2023 sal kan doen ná drie breinoperasies nie. Die spanning en druk sou net te veel wees vir haar.
“Ek was bang ek gaan spyt wees as ek nie ten minste probeer nie. Dit was moeilik om vasberade te bly, veral ná my derde operasie,” sê sy.

Danika Smith tydens haar matriekafskeid. Foto verskaf
Danksy die ondersteuning en aansporing van haar familie en vriende het sy wel besluit om die jaar aan te pak.
“Dit was regtig nie elke dag maklik nie. Maar die skool het my wonderlike ondersteuning gebied. Hulle het altyd ’n plan gemaak om my tegemoet te kom.”
Danika was die meeste van die tyd in Pretoria om naby aan haar dokters te wees. Sy het haar werk aanlyn gedoen en take voltooi waar ander kinders toetse geskryf het.
Danika Smith het drie breinoperasies verlede jaar gehad. Foto verskaf
“Elke keer as ek in Bloemfontein was het ek wel ’n klastoets of twee gaan skryf sodat my jaarpunt reg kon wees.”
Danika het vir haar rekord- en proefeksamen by Oranje se koshuis ingetrek en baie hard gewerk om die eksamen af te lê. “Dit het sin gemaak om daar te woon sodat ek naby my onderwysers kon wees.”
Sy het ook tutors gehad wat haar bygestaan het.

Danika Smith tydens haar matriekafskeid. Foto verskaf
Danika sê sy het nie verwag om so goed te doen nie. “Toe ek my punte kry, het ek in trane uitgebars.”
Haar raad aan ander leerlinge wat in moeilike omstandighede moet skoolgaan en veral hulle matriekjaar moet voltooi, is om jouself eerste te stel. “ ’n Mens se gesondheid kom eerste. En moet nooit vergeet om na Jesus toe te draai nie. Druk deur en staan sterk.”
Danika het die jaar besluit om eers te werk en geld bymekaar te maak om volgende jaar somatologie te studeer. Haar ma, Wilma Smith, sê sy is ongelooflik trots op Danika.
