On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Man lewenslank tronk toe ná verkragting van dogter (14)

───   HEIDRÈ MALGAS 13:16 Tue, 23 Jan 2024

Man lewenslank tronk toe ná verkragting van dogter (14)  | News Article

“Die staat het aangevoer dat sy herhaaldelik verkrag is, maar dat sy uit vrees dit nie aangemeld het nie.”

’n 35-jarige man is in die Bethlehemse streekshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van sy 14-jarige dogter.

Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê die man is aangekla van ontvoering en verkragting weens voorvalle wat in September 2021 by hul huis in Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat plaasgevind het.

“Die staat het aangevoer dat sy herhaaldelik verkrag is, maar dat sy uit vrees dit nie aangemeld het nie. Die misbruik het aan die lig gekom toe die slagoffer se jonger broer haar voor hul ouer suster gevra het waarom sy in hul pa se kamer slaap in plaas van in die kinders se kamer,” sê hy. 

Die meisie het haar suster van die verkragting vertel en dit is by die polisie aangemeld.

‘Hy het beweer dat hy gedwing was om dit te sê’

“Ná sy inhegtenisneming het die beskuldigde beken dat hy meer as een keer seks met die slagoffer gehad het. Tydens die verhoor het hy egter sy bekentenis ontken en beweer dat hy gedwing was om dit te sê," sê Senokoatsane.

Die hof het die verklaring as ’n erkenning toegelaat nadat ’n afsonderlike verhoor die egtheid daarvan bepaal het.

‘Die beskuldigde het geen berou getoon’

Vusimuzi Nhlapo, staatsaanklaer, het tydens die vonnisoplegging die hof versoek om die erns van die oortreding in ag te neem. Hy sê die beskuldigde het geen berou getoon nie en moet die maksium vonnis opgelê word. 

Nhlapo het ook die verlies van haar onskuld deur haar pa beklemtoon en die hof versoek om die emosionele trauma wat die slagoffer gely het te erken. 

Ná hierdie pleidooi het die hof die beskuldigde se weergawe verwerp en hom skuldig bevind aan die verkragting van sy minderjarige dogter. Hy is lewenslank tronkstraf opgelê vir ontvoering en verkragting. 

OFM Nuus dg/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.