Central SA
8 vermeende veediewe in Noord-Kaap aangekeer─── ZENANDE MPAME 13:27 Tue, 23 Jan 2024
“Die verdagtes is gevang en aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde vee en veediefstal.”
Twee plaaswerkers in Kuruman word daarvan verdink dat hulle die naweek ses Bonsmara-koeie in Kuruman gesteel het. Hulle is gearresteer terwyl hulle probeer het om die koeie te verkoop.
Die Kuruman-veediefstaleenheid het inligting oor die gesteelde koeie opgevolg. Drie mans tussen 30 en 50 jaar oud is in besit van die gesteelde vee betrap.
“Die polisie het die verdagtes by ’n plaas net buite Kuruman gearresteer terwyl hulle besig was om die ses koeie te verkoop. Die koeie is sowat R45 000 werd,” sê Noord-Kaapse polisiewoordvoerder Sergio Kock.
‘Hulle is gearresteer terwyl hulle besig was om die koeie te verkoop’
Die vee is positief geïdentifiseer en aan die regmatige eienaar terugbesorg. Die drie mans sal binnekort in die Kuruman-landdroshof verskyn.
In ’n afsonderlike voorval in die provinsie is vyf verdagtes in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal en besit van gesteelde vee verlede naweek in Richmond. Hulle sou vandag in die landdroshof in Richmond verskyn.
Die polisie het inligting ontvang oor mense wat vee in ’n huis in Richmond slag. Met hul aankoms het hulle drie verdagtes in die huis gevind met drie skaapkarkasse, asook een lewendige skaap.

Drie skaapkarkasse is in die huis gevind. Foto: SAPS
“Die verdagtes is gevang en aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde vee en veediefstal. Daar is ook beslag gelê op die motor wat na bewering in die misdaad gebruik is,” sêTimothy Sam, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Die polisie het wenke aan vee-eienaars uitgestuur om veediefstal te voorkom. Boere moet ’n veeregister opstel en in stand hou. Vee-eienaars moet hul vee volgens die Wet op Diere-identifikasie merk en alle rondloperdiere en veediefstalvoorvalle by die naaste polisiekantoor aanmeld. Hulle moet ook saamwerk met die polisie en die veediefstaleenhede.
OFM News/Zenande Mpame cg/dg
