Central SA
Balju lê beslag op ‘selfs stukkende voertuie’ van Vrystaat-munisipaliteit – VIDEO─── 14:20 Thu, 25 Jan 2024
“Die balju het selfs stukkende voertuie gelaai. Voertuie wat in die stoor gestaan het, wat nie meer padwaardig is nie.”
Die balju van die hooggeregshof het Woensdag (24/1) op 14 voertuie, asook verskeie meubels van die Masilonyana-munisipaliteit beslag gelê.
Die beslaglegging is toegestaan aan HT Pelatona Projects, ’n kontrakteur van Welkom wat onder meer water- en sanitasiedienste en pyplynstelsels verskaf, sê Willem Potgieter, VF Plus-raadslid van die munisipaliteit.
Die bedrag wat die munisipaliteit, wat dorpe soos Theunissen, Winburg en Brandfort insluit, skuld, is nie bekend nie, maar beloop glo “etlike miljoene rande”. Volgens ’n mediaverklaring deur Rise Mzansi is voertuie van die sogenaamde “yellow fleet”, bakkies en selfs ’n mobiele toilet deur die balju weggeneem.
“Die balju het selfs stukkende voertuie gelaai. Voertuie wat in die stoor gestaan het, wat nie meer padwaardig is nie,” sê Potgieter. “Ons verstaan die munisipaliteit is besig met onderhandelinge om die beslaglegging om te keer en die voertuie terug te kry.”
‘Raadslede word in duister gehou oor skuldeisers’
Hy sê Mojalefa Matlole, munisipale bestuurder, en Dimakatso Modise, burgemeester, hou raadslede in die duister oor die munisipaliteit se geldsake en skuldeisers. “Ons weet die munisipaliteit skuld geweldig baie diensverskaffers geld wat hulle nie betaal nie.
“Ons het verlede week oor die waterkrisis (op Theunissen) vergader. Die munisipale bestuurder het genoem dat twee diensverskaffers beslag gelê het op die munisipaliteit se bankrekening. Een eis beloop R1,7 miljoen en die ander R1,4 miljoen.
“Hy wou egter nie uitbrei oor wie die diensverskaffers is nie en waarom hulle op die bankrekening beslag gelê het nie. Hulle ignoreer al ons versoeke; dis regtig ’n groot frustrasie.”
Die balju het sowat ’n jaar gelede, in Februarie 2023, óók beslag gelê op sewe munisipale voertuie en ’n kompakteerder van Masilonyana om uitstaande skuld aan diensverskaffers te delg.
‘Beslaglegging weens historiese skuld’
Die munisipaliteit het Donderdag (25/1) in ’n mediaverklaring gesê die beslaglegging spruit uit historiese skuld van vier jaar gelede wat aan HT Pelatona Projects verskuldig is.
“Ons kan ook bevestig dat tot elf nielopende en niefunksionele voertuie van die munisipaliteit en ander nienoodsaaklike meubels verwyder is. Hierdie roerende bates sal geen noemenswaardige uitwerking op dienslewering hê nie.”
Die munisipaliteit sê ’n derde van die skuld is reeds vereffen.
‘Watertoevoer grotendeels herstel’
Potgieter sê Theunissen se watertoevoer is grotendeels herstel nadat inwoners 40 dae lank met droë krane moes klaarkom. Hoogliggende dele het egter nog nie water nie omdat die reservoir telkens leegloop.
Hy het sy kommer uitgespreek omdat die munisipaliteit weier om raadslede ’n amptelike oorsigbesoek aan die dorp se watersuiweringswerke toe te staan.
“Wanneer ons by die watersuiweringsaanleg opdaag, word ons toegang geweier. Ons het ook nie bevestiging dat die water wel getoets is nie; daarom raai ons mense aan om nie die water te drink nie, of dit eers te kook.
“Die Departement van Water en Sanitasie moet eers ’n sertifikaat van voldoening uitreik om te bevestig dat die water wel vir menslike gebruik geskik is, maar ons weet nie of dit gedoen is nie.”
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg
