On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Angel Hearts bied baie liefde in Bloemfontein

───   ELSABÉ DE JAGER 15:23 Thu, 25 Jan 2024

Angel Hearts bied baie liefde in Bloemfontein | News Article
Die span het ook tyd gemaak vir hul eie Kersfeesviering. Foto verskaf

Sjokoladeblokkies met liefdesboodskappe, wollerige teddiebere met rooi harte en outydse lekkergoed trek op elke volgepakte tafel aandag.

’n Gewerskaf dwarsoor die werf en in die Leviseurstraathuis laat menige Bloemfonteiner nuuskierig instap by die hek om dadelik verwelkom te word deur die kleurvolheid van die volgepakte rakke.

Karen Kemp, eienaar van die Angel Hearts-werkswinkel vir volwassenes met gestremdhede, sê Januarie is ’n vrolike maand, want daar word hard voorberei op die jaarlikse Valentynsdagmark op 10 Februarie. Sjokoladeblokkies met liefdesboodskappe, wollerige teddiebere met rooi harte en outydse lekkergoed trek op elke volgepakte tafel aandag. 

’n Dag gevul met liefde en omgee wag op alle besoekers. Foto verskaf

Sedert die ontstaan van Angel Hearts in 2015, leer Kemp nie net vir dié klein groepie werkers verskillende handvaardighede aan nie, maar bied sy ook aan elkeen ’n veilige en gesellige hawe waar hulle opnuut menswaardigheid en selftrots kan ervaar. “Waarna ek strewe, is om elke werker voor te berei vir gemaklike deelname aan dit wat die buitewêreld bied en om mettertyd hul volle potensiaal te verwesenlik.”

Vir Kemp is ontspanningsaktiwiteite ook van groot belang. “Dit bied aan hulle die geleentheid om plekke te sien wat hulle nie andersins sou kon beleef nie, sê dié vrou met die goue hart.”

Om vir ’n uur of wat te ontsnap van hul harde werk, waar hulle artikels maak vir bestellings van nie net individue nie, maar ook van groot korporatiewe instansies, vat die span van tyd tot tyd die pad en geniet ’n fliek, ’n besoek aan die botaniese tuin, selfs ’n kuier by ’n skool. 

Richard, skilder van formaat, se troeteldierkunswerke hang in vele Bloemfontein-huise. Foto: Facebook

“As jy dit kan droom, kan jy dit doen”, sien ek met die groetslag die boodskap teen die muur raak. Ek vertoef vir ’n oomblik by elkeen se tafel waarop hul name met die betekenisse daarvan pryk. 

Vir Sammy, Richard, Koos, Livelle, Ntabiseng en Gloria is Angel Hearts ’n plek waar hulle hul vaardighede met trots kan deel, maar terselfdertyd ook liefde van so baie Bloemfonteiners – hetsy ’n sakkie meel, ’n bord koekies, wol om ’n beer mee te brei – kan ervaar. 

Vir Kemp bly hierdie vrygewigheid van die publiek een van die hoogtepunte van die afgelope nege jaar.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

 

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.