On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hannes van Wyk praat op kleurryke vroueoggend in Bloemfontein

───   ELSABÉ DE JAGER 15:54 Fri, 26 Jan 2024

Hannes van Wyk praat op kleurryke vroueoggend in Bloemfontein | News Article
Hulde sal gebring word aan vroue wat as inspirasie dien vir ander mense. Foto: Freepik

Tydens dié geselligheid in die Ramblers Club in Bloemfontein sal 250 vroue die geleentheid hê om saam te kuier.

’n Geliefde TV-aanbieder sien daarna uit om binnekort op ’n vroueoggend in Bloemfontein hulde te bring aan vroue en ma’s wat dwarsdeur sy lewe vir hom ’n inspirasie was.

Hannes van Wyk tree op 14 Maart saam met die aktrise en skrywer Desiré Gardner as spreker op tydens ’n praggeleentheid wat Opulentia Finansiële Dienste aanbied ten bate van Engo. Die opbrengs sal gebruik word vir die kinder-en-jeugsorgprogram.

Daar sal trane weggevee word maar ook baie gelag word, sê Hannes van Wyk. Foto verskaf

Groot opgewondenheid heers oor dié eerste damesoggend wat hulle aanbied, sê Tianke de Waal, bemarkingskoördineerder van Opulentia. Tydens dié geselligheid in die Ramblers Club in Bloemfontein sal 250 vroue die geleentheid hê om saam te kuier.

Nuwe vriendskappe sal gesmee word en elke vrou sal gemotiveerd en geïnspireerd vertrek ná die oggend vol vermaak. Afgesien van ’n paar verrassings, is ’n hoogtepunt van die program ongetwyfeld Hannes se gesprek met drie suksesvolle vroue-entrepreneurs van Bloemfontein.

Daar is 33 jeugsorgsentrums in die Vrystaat wat na 852 kinders omsien. Die jeugsorgprogram wat deur Engo ontwikkel en bestuur word, verseker vir elke kind ’n omgewing waarin hy hom onder toesig gelukkig en veilig kan uitleef. Vir Opulentia is dit ’n voorreg om hierdie pad saam met Engo te stap, sê De Waal.

Die jeugsorgsentrums bied aan meer as 800 kinders ’n huislike en gelukkige ruimte. Foto: Facebook

Vir Van Wyk lê Bloemfontein na aan die hart. Hy het sy studentedae hier deurgebring en was ook verbonde aan die destydse streeksraad vir die uitvoerende kunste Sukovs. Hy sien uit daarna om eersdaags hierdie dag deur te bring saam met die mense van sy hart.

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.