Central SA
Plaaskultuurfees op Clocolan bring oud en jonk bymekaar─── ELSABÉ DE JAGER 14:05 Mon, 29 Jan 2024
Daar word soos in die ou dae weer geploeg en kuilvoer gekerf en met stoomenjins gedors.
“ ’n Dorpie met ’n reënboog vol skilderagtige mooi wat geeneen ná ’n besoek ooit sal vergeet nie.”
Vir Christiaan van Niekerk, ondervoorsitter van die Oos-Vrystaatse Veteranetrekkerklub, ook medeorganiseerder van vanjaar se plaaskultuurfees, is hierdie opmerking van ’n onlangse besoeker aan dié mooi Oos-Vrystaatse dorp, wat in 1906 gestig is, geen verrassing nie. As een van die land se grootste sonneblomprodusente en met vars berglug en heelwat beskikbare water, bied Clocolan aan inwoners sowel as besoekers ’n rustige hawe, sê hy.

Musiekkonserte vermaak oud en jonk. Foto verskaf
Vir die trekkerklub is die bewaring van oudhede en antieke plaastoerusting, veral trekkers en stoomenjins, van groot belang. As deel van die bewaringsproses en ook om die oudhede aan die jonger geslag bekend te stel, word ’n jaarlikse plaaskultuurfees gehou. Vanjaar se geleentheid vind plaas op 1 en 2 Maart.
“Dit gebeur min dat oud en jonk op so ’n wyse by ’n feestelikheid saamtrek”, sê Van Niekerk. Antieke trekkers, wat deurentyd om die arenabaan ry, vul nie net die ouer garde met nostalgie nie, maar is ook ’n groot aantrekkingskrag vir die jonger geslag.

Antiek en jonk – ’n ou ploeg agteraan ’n Land Cruiser. Foto verskaf
Daar word soos in die ou dae weer geploeg en kuilvoer gekerf en met stoomenjins gedors. Hy vertel ook van oom Gert Beukes, een van die oudste klublede, wat elke jaar sy span osse inspan om te ploeg.
Konserte bly ook nie agterweë nie. Die Vrydagaand tree Barto op en die Saterdag sorg Hennie en die kitaarkêrels, asook Jan Rhaap, vir nog meer feestelikheid. Nog ’n nommer op vanjaar se program is die motorfietsresies, wat verlede jaar vir die eerste keer met groot sukses aangebied is.

Tydens die fees word die koring gedors wat onlangs met behulp van dié John Deere-trekker gesny is. Foto verskaf
Gevra oor nuwighede wat besoekers op dié fees, wat al langer as 70 jaar plaasvind, kan verwag, sê Van Niekerk “ongetwyfeld die vaaljapietrekkers”; vandaar ook vanjaar se feestema, Vaaljapie.
OFM Nuus/Elsabé de Jager cg
