Central SA
Vrystater tronk toe vir moord, aanranding van twee vriende─── 15:10 Mon, 29 Jan 2024
“Marumo en Johnson was glo in ’n liefdesdriehoek met dieselfde vrou betrokke.”
’n Paroolganger wat in September eers ’n vriend tydens ’n rusie gesteek en die volgende dag ’n ander vriend doodgesteek het, is in die hooggeregshof in Bloemfontein vir 15 jaar tronk toe gestuur vir moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Koos Joe Marumo (44) was uit op parool nadat hy vir verkragting gevonnis is toe hy eers vir Seuntjie Ismael met ’n mes aangerand en die volgende dag vir Tshokolo Johnson (28) doodgesteek het.
Marumo en Johnson was glo gewikkel in ’n liefdesdriehoek met ’n vrou, slegs bekend as Stokinyana. Die eerste rusie, op Saterdag 25 September, het juis ontstaan toe Marumo wou keer dat Johnson ’n huispartytjie in Sejake Square naby Bloemfontein met Stokinyana verlaat.
‘Die woedende Marumo het hom tydens ’n stoeiery gesteek’
“Tydens die rusie het Ismael tussenbeide getree en ’n woedende Marumo het hom tydens ’n stoeiery gesteek,” sê Thabo Covane, polisiewoordvoerder. Ismael is hospitaal toe geneem om vir die steekwonde behandel te word.
Die volgende oggend het die groep vriende vir Ismael in die hospitaal besoek. ’n Rusie het weereens ontstaan toe Johnson saam met Stokinyana wou vertrek het, waartydens Marumo vir Johnson noodlottig in die nek gesteek het.

Koos Joe Marumo was vir verkragting gevonnis. Foto verskaf
“Twee afsonderlike sake is by die Kopanong-polisiekantoor aanhangig gemaak, naamlik aanranding met die opset om ernstig te beseer en moord. Marumo is in hegtenis geneem. Hy is voorheen van verskeie misdrywe aangekla en is skuldig bevind aan verkragting.
“Hy was op parool toe hy Johnson doodgesteek het. Hy is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.”
OFM Nuus dg
