Central SA
Vaalpets bied veilige hawe vir honde in nood─── ELSABÉ DE JAGER 08:19 Wed, 31 Jan 2024

Sedert 2015 bedryf dié vrou met die goue hart Vaalpets, wat vandag hawe bied aan 200 honde.
“Honde het ’n manier om die mense te vind wat hulle nodig het, en om die leemte te vul wat ’n mens nie eens geweet het jy het nie.”
Dit is die boodskap wat in elke besoeker aan die Vaalpets-diereskuiling se hart bly lê ná ’n ontmoeting met Danielle van Rooyen, uitvoerende hoof en stigter van dié organisasie sonder winsoogmerk, en haar span vrywillige werkers.
Benewens die daaglikse versorging sluit hul werk ook in administrasie rondom die aanneming van ’n hond en huisbesoeke aan voornemende eienaars, sê Jeanine Freemantlle, Vaalpets se bemarker.
Danielle van Rooyen gee nooit op met ’n dier wat in nood verkeer nie. Foto: Facebook
Vaalpets, geleë op ’n 4 ha-kleinhoewe buite Vanderbijlpark, is ’n tydelike hawe vir diere op hul reis na ’n permanente huis, sê Mari-Leigh Pienaar, ook ’n vrywillger, oor die situasie van die vierpotige inwoners. Die organisasie ontvang geen staatsubsidie nie en is ten volle afhanklik van skenkings en vrywilligers om te help met die diere se versorging.
Van Rooyen, wat deur haar werknemers as ’n “kort, fyn tannie met die grootste hart denkbaar” beskryf word, se missie is om te verseker dat sy soveel honde in nood moontlik kan red, rehabiliteer en in liefdevolle huis geplaas kan kry. Hierdie passie van haar het vlerke gekry in 2010. Ná die dood van haar man het sy haar hart en siel daarin gestort om verlate, mishandelde en siek diere te help.
Die eerste tree na dié hartswerk was op ’n straathoek op Vanderbijlpark, waar sy sewe maer kinders met 12 verwaarloosde hondjies sien staan het. Nadat sy vir almal, honde inkluis, kos gegee het, het sy hulle teruggeneem na hul huis in die nedersetting Bophelong. Die prentjie van die honger kinders en diere het haar bygebly. Sy het besluit om ’n verskil te maak.
“Die afgelope 13 jaar red en beskerm Van Rooyen hawelose honde, dokter sy die siekes gesond en soek onverpoosd na liefdevolle huise waar hulle as gesinslede gekoester word,” sê Pienaar.
Toby, bejaarde inwoner, geniet die liefde en versorging wat Vaalpets hom bied. Foto: Facebook
Sedert 2015 bedryf dié vrou met die goue hart Vaalpets, wat vandag hawe bied aan 200 honde. Ongeveer 70 is te klein, oud of sieklik om by die skuiling self versorg te word en is in pleegsorg by óf Van Rooyen se huis óf vrywilligers s’n.
Op 73 is Van Rooyen nog lank nie te oud om te droom nie. Sy sal enigiets gee om ’n volledig toegeruste hondekliniek in te rig. Danksy skenkings en borgskappe van sakelui in die Vaaldriehoek is die gebou byna voltooi. “Dit is egter nog slegs die leë dop,” sê sy.
Skenkings word benodig om die kliniek van mediese toerusting, meubels en rekenaartoerusting te voorsien. Ook droom sy van ’n laboratorium waar toetse gedoen kan word vir ernstige siektes soos bosluiskoors, katgriep en brandsiekte.
Hierdie vrou, wat maklik oor ’n draadheining sal spring om ’n hond in nood te red, hoop dat haar lewensdroom bewaarheid sal word, meen haar span werkers uit een mond.
OFM Nuus/Elsabé de Jager dg