Central SA
‘Polisie kyk anderpad terwyl sindikate landbou in Noordwes besteel’─── 12:41 Wed, 31 Jan 2024
“Dit blyk dat lede van misdaadsindikate beskerm word.”
Boere in Noordwes het binne twee maande verliese van meer as R5 miljoen gely nadat misdaadsindikate in minstens 20 gevalle groot hoeveelhede graansaad, kunsmis, onkruiddoders, plaagdoders en diesel gesteel het.
“Ten spyte van bewyse en verdagtes wat deur slagoffers geïdentifiseer is, het die polisie tot op hede nog niemand in hegtenis geneem nie,” sê Carin Visser, DA-wetgewerlid.
Sy sê kommersiële voedselprodusente in Sannieshof, Ottosdal, Lichtenburg, Biesiesvlei, Setlagole, Delareyville, Koster, Coligny en Itsoseng is die afgelope twee maande geteiken.
‘Dit word oor provinsiale grense bedryf’
“Uit die inligting tot ons beskikking, blyk dit hierdie misdade word strategies beplan om die diefstal van groot volumes graansaad, kunsmis, onkruiddoders, plaagdoders en diesel te fasiliteer. Daar is aanduidings dat die georganiseerde misdaadsindikate oor provinsiale grense bedryf word.
“Die DA het 20 saaknommers aan Sello Kwena, provinsiale kommissaris, voorgelê. Ons vra ’n spesialisondersoek na hierdie sake en versoek die redes vir die vertragings om arrestasies uit te voer, veral waar die identiteit van oortreders bekend is.
“Die regering kan nie voortgaan om dit te ignoreer dat boere, voedselprodusente en landelike gemeenskappe in Suid-Afrika deur georganiseerde misdaadsindikate geteiken word nie. Hierdie misdaadsindikate buit die feit uit dat landelike polisiëring te min hulpbronne tot hul beskikking het om misdaad doeltreffend te voorkom en om inwoners te dien en hul eiendomme te beskerm.”
OFM Nuus dg
