On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Skilder Willem Pretorius van Rosendal, gesin in rou ná seun se dood

───   ELSABÉ DE JAGER 08:00 Thu, 01 Feb 2024

Skilder Willem Pretorius van Rosendal, gesin in rou ná seun se dood | News Article
Die Pretorius-gesin het hulle 17 jaar gelede op die rustige Rosendal gevestig. Foto: Facebook

“Terwyl die dood van ’n kind reeds die verskriklikste seer is wat ’n mens jou kan indink, het die dood van Lindley selfs ’n donkerder skakering.”

Ter wille van hulleself en hul kinders moet Willem en Linda voortbeur in dié tyd wat die lewe alle kleur vir hulle verloor het, sê Stander.

“Ek is buite woorde. Dit vat baie vir ’n skrywer om nie woorde te hê nie maar op die oomblik het ek net trane vir hulle.”

So sê Carina Stander, skrywer en joernalis, ná die wye reaksie op haar skrywe oor haar vriende, die skilders Willem en Linda Pretorius, se onlangse verlies. Hul seun Lindley (18) het op 10 Januarie gesterf. Die Pretorius-gesin woon die afgelope 17 jaar op die Vrystaatse dorpie Rosendal.

“Terwyl die dood van ’n kind reeds die verskriklikste seer is wat ’n mens jou kan indink, het Lindley se dood selfs ’n donkerder skakering. Hierdie pragtige jong man het sy eie lewe geneem. Heeltemal onverwags. Sonder waarskuwing,” skryf Stander op Facebook.

Lindley het as die sonskynkind van Rosendal bekendgestaan. Foto: Facebook

Lindley, wat die tweede oudste van die Pretorius-egpaar se agt kinders was, was alom bekend as ’n sensitiewe seun en talentvolle tekenaar. Van sy werk is in die kunstydskrif Ons Klyntji opgeneem.

Willem is ’n skilder met ’n kontemporêre styl wat sy inspirasie vind in die lewe en voorkoms van klein plattelandse dorpe. Hy is bekend daarvoor dat hy landskappe skilder “nes hulle is”, byna fotorealisties. Met die jare het hy sy gesin saamgeneem op vele toere deur die land.

In Maart 2022 verskyn sy boek, Iewers, êrens, uitgegee deur Pretoria Boekhuis. Hierin verskyn 50 kleurafdrukke van sy skilderye. Elke werk word begelei deur woorde van ’n skrywer, skilder of musikant. 

Carina Stander het haar herinneringsboodskap, die gedig “Sabbat”, by die skildery van die kerk op Rosendal gevoeg. Vir haar is dié gedig as’t ware ’n troosboodskap ná Lindley se selfdood, aangesien dit oor die afskeid van ’n aanbiddingsplek van weleer handel:

Die Vrystaatse kerkie is
Sondagoggendstil.
Die skaduwees groei alom.
Die grasse is gehark deur die
wind.
Die wolke winddeurdrink.

Een van Willem Pretorius se vroeëre skilderye. Foto: Facebook

Ter wille van hulself en hul kinders moet Willem en Linda voortbeur in dié tyd wat die lewe alle kleur vir hulle verloor het, sê Stander. Om aan hulle die nodige stilte te bied sonder enige nuwe werksdruk, stel sy voor dat kunsliefhebbers en vriende van Willem in hierdie tyd sy beskikbare kunswerke aanskaf. 

Belangstellendes kan Linda direk kontak vir enige beskikbare werke by 076 159 0525. E-posse kan gerig word aan mossie1004@gmail.com.

“Miskien is verlange die eensaamste soort uitlewing van liefde wat daar is; miskien is verlange die liefdesverklaring van stilte,” mymer dié hartsvriendin van die Pretorius-gesin.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.