On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

NALN vier liefde met klank en poësie in Bloemfontein

───   ELSABÉ DE JAGER 08:21 Wed, 07 Feb 2024

NALN vier liefde met klank en poësie in Bloemfontein | News Article
Toast Coetzer die joernalis, musikant, skrywer en digter. Foto verskaf

"Ek en Toast is albei lief vir reis. So is ’n klein toertjie gebore waar ons van die Kaap af deur Prins Albert, Bloemfontein, Parys en Pretoria ry en plek-plek stop om te gesels en gedigte voor te lees."

Vele verhoudings- en liefdesoomblikke, hetsy passievolle tonele of drome wat aan skerwe spat, speel inderdaad in motors af.

Die skrywer en digter Tom Dreyer is die inspirasie vir die tema – In my droom ry jy oor ’n rooi robot – van die Valentynsaand wat op 14 Februarie in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein aangebied word.

Hy en Toast Coetzer, voorsanger van die spoken word-groep The Buckfever Underground, is die aanbieders van dié program waartydens hulle die gehoor gaan bederf met gedigte en stories oor die oop see, langpad en, in die gees van Valentynsdag, ook die liefde.

Dreyer en Coetzer het albei ’n liefde vir reis asook vir die liefde self. Foto verskaf

“Ek en Toast is albei lief vir reis. (So is) ’n klein toertjie gebore waar ons van die Kaap af deur Prins Albert, Bloemfontein, Parys en Pretoria ry en plek-plek stop om te gesels en gedigte voor te lees,” vertel Dreyer oor hul landwye optredes.

Dreyer se debuutdigbundel, Nou in infrarooi, is verlede jaar gepubliseer. Die skrywer Fanie Olivier beskryf dit as “miskien die indrukwekkendste debuut van die afgelope dekade of twee”. Tydens die optrede volgende week sal die gehoor ook voorlesings hieruit kan geniet.

Coetzer, mederedakteur van die tydskrif Ons Klyntji, beplan om die aand nog méér passie en kleur te gee wanneer hy sy liriekboek, The last days of beautiful, op die verhoog uithaal en laat opklink saam met die gedigte van Dreyer.

Dreyer is ook die outeur van onder meer Erdvarkfontein, Stinkafrikaners en Equatoria. Foto verskaf

In die gees van Valentynsdag sal die liefde op daardie NALN-aand nie agterweë bly nie; daar sal gelees word oor “bote in die nag, van hawens in ’n storm en ook van lieflike mooiweersdae, wat almal sal laat vergeet van gister se donker wolke”, verseker dié twee woordreisigers wat elkeen nog in die liefde glo.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.