Central SA
‘Ons kry almal baie swaar’ – ma van dogter wat busongeluk oorleef─── KAREN VAN DER BERG 11:30 Wed, 07 Feb 2024
“Sy sê haar oë brand verskriklik van al die dieseldampe op die ongelukstoneel.”
Haar dogter kan nie eet of slaap nie en roep heeltyd na een van haar vriendinne wat gesterf het.
“Ons is beslis nie oukei nie,” sê Didah Motaung, van Dagbreek in Welkom, wie se dogter, Nobuhle Motaung (13), een van die leerlinge is wat laat Dinsdagmiddag in die Hoërskool Riebeeckstad se busongeluk betrokke was. Ses leerlinge is in die ongeluk dood en tientalle is beseer.
“Nobuhle het sagteweefselbeserings opgedoen en ons is dankbaar sy is reeds uit die Bongani-hospitaal ontslaan. Haar lyf en haar kop pyn vreeslik.”

Nobuhle Motaung (13) is een van die leerlinge wat beseer is in die busongeluk van die Hoërskool Riebeeckstad. Foto verskaf
Maar hulle kry almal swaar. “Sy sê haar oë brand verskriklik van al die dieseldampe op die ongelukstoneel. Daar was ook soveel bloed en trauma.”
Die gr. 8-meisies was op pad terug van ’n buitelug-sportbyeenkoms vir meisies in die Moolmanshoek-natuurreservaat in die Witteberge by Ficksburg. Die ongeluk het op die R70 tussen Senekal en Ventersburg plaasgevind toe ’n wiel glo losgekom en die bestuurder beheer oor die bus verloor het. Hulle het Maandagoggend vertrek.
In hierdie tye, sê Didah, wonder sy net of die bus reg gewerk het en of alle veiligheidmaatreëls in plek was. “Ek wil nie sê daar mag geen skooltoere meer wees nie, maar hierdie ongeluk sal ’n mens twee keer laat dink. Veral oor watter veiligheidsmaatreëls getref word.”
Sy hoop om haar dogter so gou moontlik in terapie en traumaberading te kry en hoop dit sal aan alle leerders beskikbaar gestel word. “Die onderwysdepartement is nou (Woensdagoggend) by die skool om oor die pad vorentoe te kom gesels en almal moed in te praat. Ons is almal baie diep geraak. Hou ons asseblief in julle gebede.”
Die skool sê in ’n verklaring op sy Facebook-blad hulle bid vir kalmte en krag. “Ouers, leerlinge en personeel. Ons skoolgemeenskap is in skok. Ons hart is gebreek oor die verskriklike ongeluk.
‘Ons bid vir krag en kalmte van God’
“Ons opregte meegevoel en simpatie, liefde en ondersteuning gaan aan al die getraumatiseerde ouers, leerlinge en vriende. Ons bid vir krag en kalmte en die liefde van God vir ons skool en ons gemeenskap en almal wat betrokke is.”
Die skool het ook bevestig die Departement van Onderwys sou die skool Woensdag (7/2) besoek.
“Dankie aan almal wat ons Dinsdagaand ondersteun het,” het die skool geskryf.

