Central SA
Vermoorde oud-Kovsie al voorheen ontvoer─── 12:44 Fri, 09 Feb 2024

“Nadat hulle hom vrygelaat het, is hy gedwing om kaalvoet te loop om hulp te gaan soek.”
Dr. Nicholas Procter, die oud-Kovsie wie se liggaam verlede week in ’n woonstel in Mbombela gevind is, is ook twee jaar gelede in Johannesburg ontvoer, sê sy familie.
Sy stiefpa, Jacob Vorster, het aan Die Laevelder gesê Procter is destyds 19 uur lank as gyselaar aangehou. “Hulle het sy besittings gevat. Nadat hulle hom vrygelaat het, is hy gedwing om kaalvoet te loop om hulp te gaan soek. Sy stembande is tydens dié voorval beskadig. Die verdagtes is nooit gevang nie.”
Die familie beklemtoon dat sy moord nie met die ontvoering verband hou nie.
‘Vierde moordverdagte nog soek’
Drie mans wat van sy moord beskuldig word, Bheki Ndlovu (38), Nkateko Tshidzumba (24) en Siyabonga Kekana (20), het Dinsdag (6/2) in die landdroshof in Mbombela verskyn nadat hulle in Soweto in hegtenis geneem is. Tydens die hofverskyning het die staat genoem ’n vierde verdagte word gesoek. Die saak is tot 14 Februarie vir ’n borgtogaansoek uitgestel.
Die drie verdagtes in Nicholas Procter se moord. Foto: The Citizen
Die motief vir sy moord is nog onbekend. Albert Greyvenstein, eienaar van die AG Solutions-veiligheidsmaatskappy, het aan die nuuswebwerf rnews.com gesê dit lyk asof Procter onder valse voorwendsels na die woonstel in die Green Valley-kompleks gelok is.
Nadat Procter op 1 Februarie as vermis aangegee is en sy Land Rover Discovery naby die Elawinibrug gevind is, is ’n reusesoektog in die omgewing deur die polisie se duikspan, soek- en reddingseenheid en honde-eenheid, asook private veiligheidsmaatskappye begin.
‘Procter is onder valse voorwendsels na woonstel’
“Dit het egter gou duidelik geword dat Procter nie daar was nie. Leidrade is opgevolg en daar is bevind dat hy ’n woonstel in die Green Valley-kompleks, wat naby die brug geleë is, besoek het.” Volgens Greyvenstein word die woonstel glo deur die Airbnb-app verhuur.
Nicholas Procter se Land Rover Discovery is verlate gevind. Foto: Die Laevelder
George Herald berig Procter en nog ’n individu het op 31 Januarie ’n sakeooreenkoms in die woonstel gehad. Volgens iSecure, die veiligheidsmaatskappy vir die kompleks, het beide partye toegangskodes vir die hek gehad om die kompleks binne te gaan en te verlaat.
“Beide partye het op verskillende tye opgedaag en die prosedure vir toegangsbeheer gevolg,” sê Hendrik Botha, hoof van iSecure. “Toe een van die partye die kompleks (met Procter se Land Rover) verlaat het, is hierdie prosedures weer gevolg.”
Familie, vriende en kollegas het Vrydagoggend (9/1) ’n viering van sy lewe gehou. Hy sou op 23 Februarie 40 geword het.
“Nic, ons broer, seun, vriend, ons sal jou so baie mis. Jy was altyd op soek na avontuur en pret. Jy was altyd daar wanneer ons jou nodig gehad het. Woorde kan nie die pyn beskryf wat ons voel sedert jy op so jong ouderdom van ons beroof is nie,” is die hartseer woorde van sy familie.
Procter was sedert 2019 verbonde aan die Nelanest-narkotiseurvereniging by Mediclinic Nelspruit.
Hy word oorleef deur sy ma, Margaret, sy pa, Malcolm Procter, sy stiefpa, Jacob Vorster, en sy broers, Graeme en Llewellyn.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg