On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Akademia-studente opgewonde oor nuwe kampusperseel in Centurion

───   ELSABÉ DE JAGER 07:01 Tue, 13 Feb 2024

Akademia-studente opgewonde oor nuwe kampusperseel in Centurion | News Article
Akademia se koffiewinkel, Sowel As, word vanaf die nuwe kampus bedryf. Foto verskaf

“Dié kampus is ’n plek waar denke ‘sowel as’ die hart gevorm sal word.”

“Ons verwelkom 510 nuwe eerstejaarstudente op ons kampus in Centurion. Saam met die senior studente wat terugkeer, is hulle so net oor die 1 070 studente, wat ’n vol kampuslewe by Akademia gekies het.”

Liana van Rooy, registrateur van dié privaat hoëronderwysinstelling, sê die groei wat Akademia ervaar, veroorsaak groot opgewondenheid. Die instelling se onderskeie fakulteite, wat ekonomiese en bestuurswetenskappe, geesteswetenskappe, opvoedkunde, natuurwetenskappe en regsgeleerdheid insluit, is ’n studiehawe vir enige student.

Die nuwe kampus het gister geopen. Foto verskaf

“Ons het in 2012 begin met 40 studente, en soos genoem, het ons vanjaar reeds meer as 3 100 studente [met die nauurse afstandstudente bygereken].” Danksy die merkwaardige toename in studente is die opening van nog ’n kampusperseel op 12 Februarie in Centurion aangekondig. “Die Leriba-kampus is ’n waardevolle toevoeging tot die instelling se bestaande Gerhardstraat-kampus,” sê sy.

Die Leriba-kampus sal deel uitmaak van die perseel wat reeds die nauurse afstandstudente en twee manskoshuise, Huis Hennops en Huis Magalies, huisves. “Sewe lesinglokale wat 460 sitplekke kan akkommodeer, sal die groei in voltydse studentegetalle kan absorbeer,” vertel Van Rooy verder oor dié nuwe kampusperseel wat geleë is op ’n boomryke terrein wat spog met goed versorgde tuine en groen grasperke.

Van Rooy sê Akademia se studente kom van dwarsoor Suid-Afrika, ook van Namibië. Daar is ook studente vanuit die buiteland wat inskakel by die nauurse afstandmodel. Hetsy ’n kampusstudent of ’n afstandstudent, die onderrig en opvoeding stel elke student in staat om “internasionaal relevant te wees én ’n betekenisvolle rol in plaaslike gemeenskappe te speel”, sê sy.

Nuwe studente kom van regoor Suid-Afrika. Foto: Facebook

“Ons is vreeslik opgewonde om te sien hoe ons studente op hierdie pragtige kampus met geriewe soos ’n kafeteria, ’n mediasentrum én Akademia se koffiewinkel, Sowel As, gaan floreer. Dié kampus is ’n plek waar denke ‘sowel as’ die hart gevorm sal word,” sê Van Rooy met die groetslag.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.