On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteiners onthou vroeë dae van radio

───   ELSABÉ DE JAGER 10:59 Tue, 13 Feb 2024

Bloemfonteiners onthou vroeë dae van radio | News Article
Guglielmo Marconi, ’n Italiaanse wetenskaplike, word deur vele beskou as die uitvinder van die radio. Foto: Grapevinebirmimgham

Radio het die toets van die tyd deurstaan: radio bly die beste vriend van so baie eensames wat niémand in die lewe het om mee te gesels nie.

“Ek sal nooit daardie eerste uitsending op 1 Julie 1985, toe ons in die aand begin uitsaai het, vergeet nie.”

Albe Grobbelaar, ontvanger van twee Artes-toekennings vir radio- en televisiewerk, asook ’n ATKV-veertjie vir sy leidende rol by Radio Oranje, later OFM, onthou die begindae van Radio Oranje as ’n opwindende tyd toe ’n nuwe radiostasie uit niks uit nie in die lewe geroep is. Nadat hy binne die bestek van vyf jaar in vier stede vir die SAUK gewerk het, was dit vir Grobbelaar ’n heuglike dag toe hy in Maart 1985 teruggekeer het na “my hartland, die Vrystaat”, waar hy aangestel is as programbestuurder by dié nuwe stasie.

Wêreldradiodag word sedert 2011 jaarliks op 13 Februarie gevier. Vandag word opnuut erkenning gegee aan die betekenis van radio as ’n medium vir toeganklike kommunikasie dwarsoor die wêreld. Volgens die sentrum vir menseregte aan die Universiteit van Pretoria, bly die radiowese een van die belangrikste mediums vir massakommunikasie wêreldwyd. In Afrika is dit vandag steeds die medium wat die hoogste in aanvraag is vir kommunikasiedoeleindes.

Radio Oranje se eerste bestuurspan (1985): Christo Olivier, Johan Dreyer, Albe Grobbelaar en Bill Otto. Foto: Facebook

Ander voormalige omroepers dink vandag met heimwee terug aan hul kosbare uitsaaidae. “Vandag voer my terug op my pad van 30 jaar se betrokkenheid by gemeenskapsradio”, vertel Johan Gunter.

As eertydse nuusverslaggewer dwarsoor die Vrystaat onthou hy die “onmiddellikheid” van nuus, wanneer hy op by ’n ongelukstoneel teenwoordig was en verslag moes doen oor ’n ongeluk waar slagoffers hul lewe verloor het. Tog beskou hy radio ook as ’n teater van die gees”, aangesien dit deurentyd speel met die verbeelding.

Anton Smith is sedert 1980 in die uitsaaibedryf betrokke as omroeper en TV-aanbieder, radiodramaregisseur en nuusjoernalis. Hy is ook skrywer, akteur en stemkunstenaar. Sy dae as programdirekteur van OFM lê steeds diep in sy hart. “Radio sal altyd bly voortbestaan as die toonaangewende medium, in welke vorm ook al”, glo dié Bloemfonteiner.

“Radio het die toets van die tyd deurstaan; radio bly die beste vriend van so baie eensames wat niémand in die lewe het om mee te gesels nie,” sê hy.


“Sedert ek self in die radiowese beland het, het baie dinge gebeur wat altyd vir my sal uitstaan”, sê Gerda Niemann, voormalige aanbieder en onderhoudvoerder van Bloemfontein. Wat haar veral sal bybly, is die gespreksgenote wat bereid was om oorkant haar in die ateljee te sit en te sê “ek is bereid om ’n deel van my lewe, my seer, my blydskap te kom deel met duisende luisteraars”.

Vir Grobbelaar is dit op hierdie dag vol onthou ’n voorreg om hulde te bring aan die eerste uitsaaispan van so baie jare terug. “Manie Kitching en Jolene du Plessis was die eerste twee ankeromroepers van Radio Oranje. Saam met hul medeaanbieders het hulle die basis gelê om van OFM die wonderlike stasie te maak wat hy vandag is.”

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.