On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Laerskool se finansiesbeampte vas oor bedrog van miljoene

───   08:55 Wed, 14 Feb 2024

Laerskool se finansiesbeampte vas oor bedrog van miljoene  | News Article
Larissa Aloma Vern. Foto: Valke

Sy word daarvan aangekla dat sy meer as R2,6 miljoen van die skool se geld verduister het.

Die finansiële beampte van die Laerskool Delmas in Mpumalanga het die afgelope naweek agter tralies deurgebring in afwagting van haar eerste hofverskyning Maandag (12/2) in die Delmas-landdroshof op aanklagte van bedrog.

Larissa Aloma Vern (52) word daarvan aangekla dat sy meer as R2,6 miljoen van die skool se geld verduister het. Sy is Vrydag (9/2) deur die Valke se ondersoekspan vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem.

Sy het die name van rekeninghouers wat aan die skool bekend is, gebruik om geld na vier van haar persoonlike bankrekeninge oor te betaal, sê Dineo Sekgotodi, Valkewoordvoerder. Die beweerde bedrog het aan die lig gekom toe teenstrydighede in die skool se finansiële rekords ontdek is.


Meer as R2,6 miljoen van dié skool se geld is verduister. Foto: Google

Vern is in 2021 as finansiële beampte by die Laerskool Delmas aangestel. Haar pligte het behels die inbetaling van personeel se salarisse, die betaling van diensverskaffers, die bestuur van die skool se begroting en hantering van kontant.

“In Oktober 2023 het die skool inligting ontvang dat Vern haarself twee bonusse betaal het,” sê Sekgotodi. “In Maart 2023 het sy haarself R11 237 betaal, wat goedgekeur is, en in Oktober 2023 nog ’n bonus van R22 543, wat nie goedgekeur is nie.”

‘Geld is in vier bankrekeninge oorbetaal’

’n Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat R2,6 miljoen van die skool se bankrekening tussen Maart en November verlede jaar oorbetaal is aan vier Capitec-bankrekenings in Vern se naam.

Die saak is tot 19 Februarie uitgestel vir ’n borgtogaansoek. Sy bly in aanhouding.

OFM Nuus dg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.