Central SA
Vrystaatse ‘Voortrekkerpa’ sterf in padongeluk─── 13:28 Thu, 15 Feb 2024

“Dankie dat jy so goeie vriend was vir jou vriende, ’n goeie man vir jou vrou, ’n uitmuntende pa vir jou dogter, ’n oulike oom vir die Voortrekkers.”
’n Gewilde en geliefde spanoffisier van die Voorslag Voortrekkers in Bloemfontein het Dinsdagmiddag (13/2) op ’n grondpad tussen Philippolis en Jagersfontein gesterf.
André Grobbelaar (48) het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor. Hy is op slag dood, berig Netwerk24.
Vrystaat Voortrekkers het op Facebook hulde gebring aan Grobbelaar. “Hy het geleef vir die Voortrekkers en veral sy gr. 10-Apespan. Hy sal onthou word vir sy vriendelikheid, opgeruimde geaardheid en die entoesiasme waarmee hy sy span hanteer het. Die Voortrekkers salueer jou!”
‘Dankie dat jy so goeie vriend was vir jou vriende’
Hy word oorleef deur sy vrou, Ronel, en hul dogter, Leandré, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Jim Fouché.
Dollie Menino-Eloff, ’n vriendin van die gesin, sê op Facebook sy is dankbaar hulle kon Saterdag vir oulaas kuier en gesels. “Dankie dat jy so goeie vriend was vir jou vriende, ’n goeie man vir jou vrou, ’n uitmuntende pa vir jou dogter, ’n oulike oom vir die Voortrekkers en ’n getroue JF-rugbyondersteuner!”
Sy werkgewer, Xerox, sê in ’n huldeblyk Grobbelaar was “jare lank 'n gerespekteerde en gewilde Xerox-tegnikus in Kimberley, voordat hy na Bloemfontein verhuis het om sy loopbaan in Xerox daar te bevorder”.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg