Central SA
Voormalige Harmony Gold-mynwerker skuldig aan bedrog─── HEIDRÈ MALGAS 14:58 Thu, 15 Feb 2024
“Die saak is oorhandig aan die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Welkom.”
’n Gewese mynwerker van Harmony Gold is effektief tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog.
Pule Abenego Motlaleng (42), gewese mynwerker van die Harmony Gold-myn, het Dinsdag (13/2) in die Welkom-landdroshof verskyn.
Christopher Singo, Valkewoordvoerder, sê in 2019 is verdagte aktiwiteite met vervalste mediese en rotsbooroperateursertifikate by Harmony Gold opgemerk. “Die saak is oorhandig aan die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Welkom.”
‘Motlaleng sou die vervalste dokumente vir R750 vervaardig’
Op 26 September 2019 het die polisie in samewerking met Harmony Gold ’n lokval gereël waarin Motlaleng genader is deur twee klante op soek na ’n mediese goedkeuringsdokument en ’n rotsbooroperateursertifikaat.
Motlaleng het ingestem om die vervalste dokumente vir R750 te vervaardig. Ná voltooiing van die transaksie en produksie van die vervalste dokumente, is hy deur wetstoepassers in hegtenis geneem.
Die hof het Motlaleng tot 12 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat hy nie weer binne die tydperk ’n soortgelyke misdaad pleeg nie. Hy mag ook nie ’n vuurwapen besit nie.
OFM Nuus dg
