On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Springfontein verheug oor nuwe boorgate

───   10:23 Fri, 16 Feb 2024

Springfontein verheug oor nuwe boorgate  | News Article
’n Jojo-tenk in die township Mapodi. Foto verskaf

“Die gemeenskap van Springfontein is baie opgewonde en dankbaar dat daar ná tien jaar weer lopende water in hul huise sal wees.”

Die gemeenskap van Springfontein is opgewonde dat ’n oplossing vir die watertekort moontlik uiteindelik gevind is.

Anita Loots, uitvoerende hoof van Tirisano-konstruksie. Foto verskaf

Inwoners is al tien jaar in ’n stryd gewikkel met min of geen lopende water nie. Die groot sondaar was Kopanong-munisipaliteit, want agterstallige rekeninge aan Vaal-Sentraal-waterraad (voorheen Bloemwater) het veroorsaak dat slegs 30% water aan die gebied verskaf is. Sommige inwoners moes kilometers loop om water by sentrale punte op die dorpe te kry.

Donderdag (15/2) het Tirisano-konstruksie boorgate op Springfontein, Trompsburg en Fauresmith geskenk. Tirisano is die maatskappy wat die finansiering van die waterprojek in Kopanong-munisipaliteit moontlik gemaak het.

Tirisano is ’n maatskappy wat boorgate aan munisipaliteite in Suid-Afrika verskaf, veral aan distrikte waar die gemeenskappe hewig onder watertekorte gebuk gaan. Foto verskaf

“Die boorgate op Springfontein het reeds 16 miljoen liter water na die onderskeie reservoirs op die dorp gepomp,” het Anita Loots, Tirisano se uitvoerende hoof, tydens die oorhandiging van die boorgate gesê. “Die boorgatpompe word egter deur Eskom gedryf; dus sal beurtkrag wel die voorsiening van water na die reservoirs beïnvloed.

’n Inwoner van die township Mapodi op Springfontein, Daniel Mohapi. Hy is dankbaar vir die skoon water. Foto verskaf

“Die munisipaliteit is verantwoordelik om water, vanaf die reservoirs, aan huise te voorsien. Tirisano is ’n maatskappy wat boorgate aan munisipaliteite in Suid-Afrika verskaf, veral aan distrikte waar die gemeenskappe hewig onder watertekorte gebuk gaan.”

Die span van Tirisano-konstruksie en Kopanong se munisipale bestuur en werkers. Foto verskaf

Loots het gesê hulle grootste uitdaging was om water aan ’n semiwoestyngebied te verskaf, aangesien die wêreld in die Kopanong-distrik kurkdroog is.

Volgens die munisipaliteit sal die water twee keer per dag vir twee ure oopgemaak word vir die gemeenskap se gebruik. Beurtwater sal in werking tree sodat daar altyd genoeg water in die opgaardamme beskikbaar is vir die gemeenskap se gebruik.

Die gemeenskap van Springfontein is baie opgewonde en dankbaar dat daar ná tien jaar weer lopende water in hul huise sal wees.

OFM Nuus/Serijke Grobler cg


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.