Central SA
Veghond val Noord-Kaapse bejaarde tydens wandeling aan─── 12:46 Fri, 16 Feb 2024
“Die Amerikaanse veghondteef is blykbaar deur haar eienaar buite gelos omdat sy kleintjies het.”
Stappers van Port Nolloth is vreesbevange nadat ’n hond iemand naby die Noord-Kaapse kusdorp se strand aangeval het.
Volgens Rika Lötter het sy en twee vriendinne Donderdag 8 Februarie helder oordag in McDougallsbaai gaan stap. “Die Amerikaanse veghondteef is blykbaar deur haar eienaar buite gelos omdat sy kleintjies het.

’n Plasing op Facebook.
“Miskien was sy honger; daarom het sy uit die niet uit op ons afgestorm. Ek was in die middel van ons drie. Die hond het die dame langs my, tannie Thea, se een been verskeur.”
Ná die aanval is die polisie in kennis gestel, maar hulle wou nie die hond uitsit nie, omdat die munisipaliteit daarvoor verantwoordelik is, sê Lötter.
Intussen kon die Port Nolloth-hospitaal nie die beseerde en bloeiende vrou help nie. Hulle moes hulle toe na ’n privaat dokter op Springbok haas, meer as 140 km verder.

Hy kon ook nie veel help nie; daarom het hulle na die staatshospitaal gegaan, waar hulle gehelp is.
Lötter-hulle moes uiteindelik met tannie Thea na Bloemfontein jaag, amper 1 000 km verder, waar sy ’n veloorplanting ondergaan het.
“Hier het die honde meer regte as ons. Ons kan nie meer gaan stap nie, want ons is te bang”
Sy behoort nie aan ’n mediese fonds nie en nou is haar mediese koste reeds ongeveer R125 000. Boonop sal sy lewenslank met die littekens en vrees moet saamleef, volgens Lötter.
’n Inwoner van Port Nolloth, Rose Smeiman, is sy siek en sat, veral vir twee Amerikaanse veghonde, wat vrees inboesem by stappers. Talle inwoners het glo reeds opgehou om te stap. Sy hoop die munisipaliteit doen iets hieraan.
“Hier het die honde meer regte as ons. Ons kan nie meer gaan stap nie, want ons is te bang.”

Die strand in Port Nolloth. Foto: Karoospace.co.za
‘n Ander inwoner van Kotzestraat, wat vra om anoniem te bly, sê: “Maandag was ek buite my voorhekkie toe twee wreedaardige Amerikaanse veghonde op my afstorm, gereed om my te verskeur. Deur die Here se genade kon ek net betyds in my tuin terugspring.”
Joseph (Vissie) Cloete, Richtersveld se munisipale bestuurder, is vir kommentaar genader. Hy het nog nie kommentaar gelewer nie.
•Thea is Donderdag (15/2) ontslaan.
