On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Padwoede-moordbeskuldigde borgtog toegestaan

───   07:58 Mon, 19 Feb 2024

Padwoede-moordbeskuldigde borgtog toegestaan | News Article
magistratesmatter.co.za

“Daar was geen betogings of plakkate wat deur gemeenskapslede gehou is in beswaar teen sy vrylating nie.”

Die padwoede-moordbeskuldigde Edward Williamson (33) is verlede week in die Kimberley-landdroshof borgtog van R5 000 toegestaan, aangesien die landdros geglo het dat hy geweldige finansiële benadeling sou ly terwyl hy in aanhouding is.

Sy medebeskuldigde, Darryl Williamson (25), is op 1 Februarie borgtog geweier.

Die beskuldigdes word van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging aangekla.

Nie ’n dwelmbaas

Die vuurwapen wat gebruik is in die beweerde padwoedevoorval wat op 27 Januarie in Roodepan plaasgevind het, waar een persoon dood en twee mans aangerand en gesteek is, is nog nie teruggevind nie.

Edward se regsverteenwoordiger, advokaat Sakkie Nel, het Donderdag gesê sy kliënt beoog om onskuldig op die aanklagte te pleit.

“Hy besit vier Quantams, twee busse, bakkies en koeriervoertuie … Hy kan nie ’n inkomste verdien terwyl hy in die tronk is nie. Hy kan dalk sy huise en bates verloor en sal nie vir sy gesin en minderjarige kinders kan sorg nie,” het Nel gesê.

Hy het daarop gewys dat Edward nie binne die bakkie was toe die oorledene doodgery is nie.

Lewe kan nie vervang word

Nel het gesê die senior staatsaanklaer het nie borgtog teengestaan nie.

“My kliënt het net een skuldigbevinding vir aanranding wat 15 jaar gelede plaasgevind het. Hy sal nie enige getuies intimideer of met hulle inmeng nie. Hy bestuur ’n besigheid en is nie ’n dwelmbaas nie.”

Die ondersoekbeampte in die saak, sers. Samuel Modise, het aangedui dat die gemeenskap in die algemeen en die oorlewende klaer vir hul veiligheid vrees.

“Terwyl die beskuldigde sy verliese sal kan verhaal, wat van die lewe wat geneem is wat nie vervang kan word nie?” vra Modise.

Onvoldoende bewyse van gevaar

Landdros Everton het geglo die staat het sy saak op hoorsê-getuienis gebaseer.

“Daar is nie genoeg bewyse om te bewys dat die veiligheid van die klaer of die gemeenskap in gevaar gestel sal word nie. Daar was geen betogings of plakkate wat deur gemeenskapslede gehou is in beswaar teen sy vrylating nie.”

Sy het bygevoeg dat daar van die beskuldigde verwag sal word om daagliks by die Roodepan-polisiekantoor aan te meld as deel van sy borgtogvoorwaardes en is gewaarsku om nie met enige getuies in te meng nie.

Die familie van die klaer (31), wat tydens die voorval beseer is, meen geregtigheid het hulle gefaal nadat borgtog aan een van die beskuldigdes toegestaan is.

OFM Nuus/James Williams cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.