Central SA
Leeus uit oorloggeteisterde Soedan vind nuwe tuiste op Bethlehem─── ZENANDE MPAME 14:55 Tue, 20 Feb 2024

“Die leeus het hulle nege maande lank in ’n oorlogstragedie bevind.”
Elf leeus is in die Lionsrock Big Cat Sanctuary by Bethlehem vrygelaat nadat hulle uit die middel van die konfliksone in Soedan se hoofstad, Kartoem, verwyder is.
Four Paws is ’n wêreldwye dierewelsynsorganisasie vir diere onder direkte menslike invloed wat lyding ervaar, wat diere in nood red en hulle beskerm. Lionsrock Big Cat Sanctuary is een van die 13 reservate en samewerkingsprojekte wat hulle geskep het. Sowat honderd groot katte, insluitend leeus, tiere en luiperds, is al gered en bly in hul Vrystaatse reservaat.
“Tot dusver het die leeus goed aangepas. Hulle is nog nie lank hier nie, maar ek moet sê hulle is kalm. Op die een of ander manier lyk dit of hulle besef het dat dit nou ’n veilige plek vir hulle is,” sê Hildegard Pirker, bestuurder van Lionsrock Big Cat Sanctuary.
Die leeus kry stadigaan hul selfvertroue terug. Foto: Hristo Vladev/Four Paws
“Op die oomblik bestuur ons hulle en in hierdie stadium is hulle maklik om te bestuur – ons doen mediese en gedragswaarneming. Ons het die meeste van hulle bymekaar gesit nadat hulle deur die oorlog geskei is.”
Four Paws-veearts dr. Amir Khalil, wat die span in Soedan gelei het, sê om die diere uit die oorlogsone in Soedan te kry, was ’n emosionele wipwaentjierit en ’n uitdaging bo enigiets wat hulle voorheen gedoen het. “Ons het nou die leeus oorgegee in die uitstekende sorg van ons kollegas by Lionsrock, wat sal sorg dat die diere uiteindelik rus, vrede en behoorlike versorging kan kry.”
Die leeus is weer gesosialiseer met dié van wie hulle tydens die oorlog geskei is. Hulle bly in die binnenshuise fasiliteit vir die duur van die mediese waarnemings en behandelings. Die leeus sal vir ’n paar dae of weke fyn dopgehou word om hul vordering te monitor.
Die leeus bly in die binnenshuise fasiliteit vir die duur van die mediese waarnemings. Foto: Hristo Vladev/Four Paws
“Hulle word gevoer en ontvang elke dag hul aanvullings, hulle eet ook goed. Die leeus kry hul krag en selfvertroue terug, die jonges speel ook saam en lyk elke dag beter,” sê Pirker.