On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Ossewaens trek nuwe baadjie aan vir Vrystaatse akkommodasie

───   ELSABÉ DE JAGER 10:15 Thu, 22 Feb 2024

Ossewaens trek nuwe baadjie aan vir Vrystaatse akkommodasie | News Article
Jaco Jansen en Alta du Plooy van Canvas Clinic tydens ’n skyngeveg by Udolpho. Foto verskaf

Die eerste van dié 15 waens word Saterdag in die werksessie oorgetrek met waterdigte skeurstopseil.

“Erfenis en bewaring lê my na aan die hart.”

Dis waarom Jaco Jansen, eienaar van Canvas Clinic in Vanderbijlpark, aanvanklik betrokke geraak het by 15 ossewaens se verskuiwing van ’n ossewakamp by Clarens in die Oos-Vrystaat na die FAK se Udolpho Rivierplaas by Parys in die Vrystaat.

Saterdag (24/2) voer hy sy liefde vir die historiese vervoermiddel verder wanneer hy op hierdie plaas ’n werksessie aanbied in die oortrek van ’n ossewaseil. “Kom kyk gerus hoe ons vir ’n ossewa ’n nuwe baadjie aantrek hier by ons eie kultuurtuiste,” nooi hy.

Die konvooi op pad van Clarens na Parys in 2022. Foto verskaf

“Een van die waens wat in 2022 ’n nuwe tuiste op Udolpho Rivierplaas gevind het, se geskiedenis strek terug tot in die 19de eeu; die res dateer uit die vroeë 1900’s,” vertel Ollie Esplin. Hy het die ossewaens by sy skoonpa, Gerhard Wille, ’n boer van die plaas Hoekfontein buite Ficksburg, oorgeneem ná die verkoop van die plaas.

Op Clarens het die waens, wat vir akkommodasie op Hoekwil gebruik is, deel geword van Esplin se ossewakamp wat óók verblyfgeriewe gebied het.

Die eerste van dié 15 waens word Saterdag in die werksessie oorgetrek met waterdigte skeurstopseil. “Hedendaagse seile is heelwat ligter as dié van jare gelede. Terwyl die oorspronklike seile slegs ’n enkele gróót stuk was wat as’t ware om die ossewaens gevou was, word die moderne seile in verskillende stukke opgedeel, ’n voorkant sowel as ’n agterkant en ook ’n stuk wat oor die dak getrek word,” verduidelik Jansen.

Jaco Cilliers van die FAK voer ’n simboliese sweepslagaksie uit voordat die ossewaens na Parys vertrek. Foto verskaf

“Wat die jongste tentmateriaal nog méér geskik vir akkommodasie in die ossewaens maak, is dat dit ligter, waterdig en bestand teen die natuurelemente is,” sê Jansen. “Een van die kantseile het ook ’n gaasvenster met ’n gordyn aan die binnekant van die wa. Sodoende kan daar ook lugvloei sonder enige muskietejag plaasvind. Die ander kantseil het ’n deur met twee ritssluiters.”

Jansen sê dit kos sowat R12 500 om een wa oor te trek. Saterdag sal die eerste oortreksessie geskied. Die res sal volg soos wat die nodige geld verkry word. “Die ossewakamp-ervaring raak baie gewild in ons land. Die waens op Udolpho is in die vorm van ’n laer gerangskik. Dit verskaf die ideale geleentheid vir gesinne en vriende om weg te breek,” sê hy.

Belangstellendes sal Saterdag die geleentheid kry om dié waens, wat oorspronklik as transportwaens gebruik is en kleiner vertoon as wat hulle inderwaarheid is, van naby te besigtig. “En vir ’n romantiese wegbreek, wag daar selfs ’n wittebroodswa met ’n uitsig op die rivier,” lag Jansen.

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.