On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Families begin met begrafnisreëlings vir weermaglede

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:41 Thu, 22 Feb 2024

Families begin met begrafnisreëlings vir weermaglede  | News Article
Die oorskot van die gesneuwelde soldate het Woensdag in Suid-Afrika aangekom. Foto verskaf

“Hul oorskot het Woensdag (21/2) op die Waterkloof-lugmagbasis aangekom.”

Die bedroefde naasbestaandes van die gesneuwelde soldate uit die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) is besig met voorbereidings om hulle te begrawe. 

Die oorskot van twee soldate van die 1 SAI, wat in Tempe Bloemfontein in die Vrystaat gebaseer is, is vanuit Goma na Suid-Afrika gerepatrieer. Hul oorskot het Woensdag (21/2) op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria aangekom.

‘Hulle is in die ooste van die DRK dood’

Hulle het Woensdag (14/2) gesterf toe ’n mortierbom die Suid-Afrikaanse basis naby Sake in die ooste van die DRK getref het. 

Kapt. Simon Mkhulu Bobe en onderkorporaal Irven Thabang Semono was van die groep wat ontplooi is as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Nog drie soldate is in die aanval beseer. 

Die oorskot van die twee weermaglede is Woensdag (21/2) aan hul families oorhandig. Foto verskaf   

“Om ’n weermaglid te verloor is nooit goed nie. As dit jong soldate is, is dit erger omdat hulle die toekoms van die weermag is. Enige gevegservaring dra by tot hul toekoms,” sê Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane. 

“Leierskap word op die slagveld gebou. Dit is hartseer en ’n mens kan jou net indink waardeur die naasbestaandes moet gaan.” Lt.kol. Lisa Sipriano sê die soldate sal op 2 Maart onderskeidelik in Pretoria en Kimberley begrawe word.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.