Central SA
Twee verdagtes aangekeer vir moord op voormalige Centlec-hoof─── HEIDRÈ MALGAS 10:08 Sat, 24 Feb 2024
“Verdere besonderhede kan nie tans openbaar gemaak word nie aangesien die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is.”
Die polisie het twee persone in hegtenis geneem nadat ’n soektog begin is ná die moord op die 52-jarige Andries Mgoqi, die voormalige uitvoerende hoof van Centlec, buite ’n kroeg in Bergman, Bloemfontein.
Volgens polisiewoordvoerder, Mahlomola Kareli, het die Mangaung Trio Taakspan in die vroeë ure van 23 Februarie 2024, terwyl hulle besig was om verdagtes te soek, inligting ontvang wat hulle na ’n huis in Wepener gelei het waar twee verdagtes van 34 en 33 jaar in hegtenis geneem is.
“Verdere besonderhede kan nie tans openbaar gemaak word nie aangesien die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat hierdie inhegtenisnemings ná die grusame moord gekom het wat op 16 Februarie 2024 omstreeks 20:25 plaasgevind het.
“Die oorledene het buite die kroeg in Bergman gestaan en met ’n vriend gepraat toe 'n onbekende man verby hulle gestap het. Hy het omgedraai, ’n vuurwapen oorgehaal en die 52-jarige verskeie kere geskiet,” het Kareli gesê.
Daar is beweer dat die verdagte ná die voorval met ’n wit Mercedes Benz-voertuig van die toneel gevlug het.
Die Bloemspruit-polisie het ’n saak van moord vir ondersoek geopen.
Enige persoon met inligting word versoek om Adjudant-offisier Jacques Wilson, van die Mangaung Trio Taakspan, te kontak op 082-466-7255, of om die polisie se misdaadlyn 08600 10111 te skakel, of ’n anonieme wenk te laat op die MySAPS-app.

