Central SA
Noordwes-reeksverkragter elf keer lewenslank gevonnis─── HEIDRÈ MALGAS 08:30 Sun, 25 Feb 2024
“Hy sou hulle dan na ’n nabygeleë veld sleep, hulle met ’n mes dreig, hulle van hul besittings beroof en hulle verkrag voordat hy van die toneel vlug.”
Die Hooggeregshof in Klerksdorp het ’n man (43) elf keer lewenslank gevonnis vir verkragting en ’n kumulatiewe 363 jaar vir ander ernstige aanklagte, insluitend nege aanklagte van verkragting, poging tot moord en diefstal.
Henry Mamothame, polisiewoordvoerder sê Johannes Ontsheketse Tshabile se misdaad sluit ook in rooftog met verswarende omstandighede, roof, poging tot roof, aanranding, aanranding met die opset om ernstig te beseeer, poging om ’n seksuele misdryf te pleeg en seksuele aanranding.
“Tshabile, wat op die lys van die mees gesoekte misdadigers in Noordwes was, het onskuldig gepleit op al 65 aanklagte waaraan die hof hom skuldig bevind het,” het hy gesê.
Tshabile se veroordeling spruit voort uit voorvalle wat tussen Desember 2012 en Mei 2018 op Wolmaransstad in die distrik Maquassi plaasgevind het, waar hy vroue op straat oorval het.

Die reeksverkragter (43) is elf keer lewenslank in die Hooggeregshof in Klerksdorp gevonnis.
“Hy sou hulle dan na ’n nabygeleë veld sleep, hulle met ’n mes dreig, hulle van hul besittings beroof en hulle verkrag voordat hy van die toneel vlug. In sommige gevalle sou hy hulle verwurg, met ’n mes steek, met klippe en ander voorwerpe aanval voordat hy hulle beroof en verkrag,” het Mamothame gesê.
Hy het ook gesê dat ’n 15-jarige meisie en ’n 65-jarige vrou van sy slagoffers was. Dit het ook in die hof na vore gekom dat hy in sommige gevalle deur ’n onbekende medepligtige vergesel is, wat soortgelyke misdade saam met hom gepleeg het. Hy is aan die misdade gekoppel deur DNS-monsters.
Regter Tebogo Djadje het met die staatsaanklaers saamgestem dat die hof ’n verantwoordelikheid het om die samelewing teen sulke oortreders te beskerm, veral nadat hulle bykans ses jaar lank in vrees geleef het.
