Central SA
Man se kakebeen vergruis, vriend gewond in Klerksdorp-rooftog─── 16:16 Tue, 27 Feb 2024
“Daar sal met rekonstruksie begin word nadat die koeël verwyder is.”
’n Man (36) van Klerksdorp is in die hoësorgeenheid nadat hy in sy gesig geskiet is terwyl hy en twee vriende in ’n residensiële kompleks, Villa Martelli, in Wilkoppies gekuier het.
Fritz Smit, ’n pa van drie, se kakebeen is in die voorval Saterdag vergruis en moet weer opgebou word. Angelique Smit, sy vrou, sê in twee sosialemediaplasings rekonstruksie van haar man se kakebeen kan begin nadat die koeël verwyder is. Sy vriend Luan Lauwrens is in die been gewond en is in die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp.

Luan Lauwrens is in die been gewond. Foto verskaf
Klerksdorp Rekord berig die verdagtes het toegang tot die perseel verkry deur die elektriese heining te knip. Slegs twee verdagtes het die huis binnegekom terwyl ’n derde verdagte ook op die perseel was.
“Ons het sit en gesels oor 'n braai wat ons die middag vir 'n vriend se verjaardag sou hou.”
Hy sê dat niks ongewoons of uit plek was nie.
“Toe ek my kop oplig, sien ek die twee gewapende mans by die deur.
"Een van die aanvallers het 'n wit handskoen aan gehad en altwee het balaclavas aan gehad en dit wou voorkom asof hulle koeëlvaste stewels aan gehad het, maar ek kan nie verseker sê nie,” vertel Lauwrens.
Een van die aanvallers het vir die mans gesê, “Hier is ons nou,” dis al.
“Toe ek my wapen uitpluk, skiet die agterste rower eerste bo oor my kop. Daarna het alles net vinnig gebeur," vertel Lauwrens. “Die ander rower het op ons losgebrand, en ek het begin terugskiet. ’n Hele paar skote is afgevuur.
‘Dit sou óf hulle óf ons wees’
“Al waaraan ek kon dink, was die veiligheid van my mense. Dit sou óf hulle [die aanvallers] óf ons wees wat lewend uitstap,” sê hy.
In ’n video van die voorval kan gesien word hoe die verdagtes van die toneel vlug.
Op Facebook sê Lauwrens: “Ek glo nie dit was ’n hit nie. Toe die ou sien ek gaan vir my geweer, toe kom hy vir my. Ek dink ek het een raakgeskiet. Ek dink die feit dat ek my vuurwapen gehad het, het hulle dalk onkant gevang. Alles het in 10 sekondes gebeur, en dit was verby. Geestelik gaan dit goed met my. Ek dink net dit is een van daardie gevalle waar jy op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was.”
‘Ek het altyd geweet God is groot’
Tina Lauwrens, Luan se ma, het gesê: “Ek het altyd geweet God is groot; daarom dank ek Hom vandag dat Hy my kind se lewe gespaar het en ook dié van Fritz en almal wat daar was toe daardie duiwels hulle verras het.”
’n Plasing op die Facebook-blad Potchefstroom First Responders wys beeldmateriaal waar Smit-hulle in die huis kuier. Die video wys hoe twee gewapende rowers in die huis inloop, waarna Smit geskiet is. Daar is intussen ’n BackaBuddy-fonds vir mediese onkostes gestig.

Fritz Smit. Foto: Facebook
Ná die heen-en-weer skietery het hulle weggehardloop.
Polisiewoordvoerder Amanda Funani sê die voorval het Saterdag omstreeks 02:00 plaasgevind. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die motief is nog onbekend,” sê sy. Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.
OFM Nuus/Heidré Malgas cg/dg
