On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Fochville groet hul kerkman met die beeste en die bus

───   ELSABÉ DE JAGER 08:30 Tue, 27 Feb 2024

Fochville groet hul kerkman met die beeste en die bus | News Article
Sy kinders en kleinkinders sal hom as een van die mense met die grootste harte ooit onthou. Foto verskaf

“Selfs op sy sterfbed wou hy steeds iets eet saam met almal wat om sy bed bymekaar was,” onthou Kobus met ’n glimlag.

“Ons verloor ’n mens van integriteit, een wat opreg liefgehad het. Ons verloor een van die groot bome in die woud.”

So bring die Hoërskool Fochville hulde aan Daan du Plessis (66). Nie net die Daan wie se busdiens sinoniem met die skool was nie, maar ook die Daan wat gehuil het wanneer een van sy beeste, tussen wie hy soms snags op patrollie aan die slaap geraak het, gesteel word.

Ook die Daan wat geen geheim van sy liefde vir sy familie gemaak het nie en die Daan wat 45 jaar ononderbroke in die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Buffeldoorns op Fochville gedien het.

’n Feesviering van sy lewe vind vandag op Fochville plaas. Foto verskaf

Kobus du Plessis, sy seun, sê die begrafnisdiens Dinsdagmiddag (27/2) sal ’n feesviering van sy pa se vol lewe wees. “Ons kon nie help om te glimlag toe ons die eetgoed vir die diens moes begin reël nie. By Pa moes mens altyd eet; daar moes altyd kos wees. Selfs op sy sterfbed wou hy steeds iets eet saam met almal wat om sy bed bymekaar was,” onthou Kobus met ’n glimlag.

“My pa het sy diensplig in 1978 voltooi, dieselfde jaar waarin die kerk op Fochville gebou is. Hy was deel van die span wat die kerk gebou het, saam met ds. Nic Laubscher, (van 1977 tot 2006) die eerste predikant van Buffelsdoorns, asook sy eie pa, oom Paul du Plessis. Pa het toe ook as een van die eerste diakens in die destydse kerkraad gedien.”

So het Daan van die ontstaan van die gemeente tot drie weke gelede, toe hy ontslag ontvang het weens sy siekte, in die kerkraad gedien, eers as diaken, later as ouderling.

Tussen sy diere op die plaas was hy op sy gelukkigste. Daan by sy seun Kobus du Plessis. Foto verskaf

Vir Kobus en Hestie en ook die kleinkinders sal dit altyd ’n eer bly om van hul pa te praat. Dié “groot boom” met sy kenmerkende hoedjie, se spore op die paaie van die Fochville-omgewing, lê diep getrap.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.