Central SA
Oud-Bloemfonteiner skitter as Mev. SA-semifinalis─── ELSABÉ DE JAGER 08:50 Tue, 27 Feb 2024
Vir dié pragtige semifinalis, wat ook lank betrokke was by OFM se advertensieverkope, is die hedendaagse vrou in Suid-Afrika ’n toonbeeld van selfversekerdheid en selfstandigheid.
“Hierdie kompetisie skep vir my ’n platform waar ek my passies, waardes en doelwitte in die lewe kan bevorder.”
Kay-Lee Badenhorst (34), onlangs aangewys as semifinalis in die Mev. SA 2024-kompetisie, sê haar lewe as voltydse tuisteskepper en ma van twee jong seuns verruil sy vir niks. “Tóg verloor ’n mens jouself so ’n bietjie in die proses. Ek het besluit om vir Mev. SA in te skryf vir selfontdekking, groei en persoonlike ontwikkeling,” vertel sy.
“Hoewel reeds die afgelope twee jaar ’n Pretorianer, het ek ’n baie diep en betekenisvolle verhouding met Bloemfontein,” sê Kay-Lee. “Ek en my man is immers agt jaar gelede daar getroud en het ons eerste jare as gesin tussen die rose deurgebring. Dit is ook die plek waar ons baie hartsvriende gemaak het.”

Die hedendaagse vrou is, volgens haar, een wat na haarself omsien en tyd maak vir haarself. Foto verskaf
Badenhorst wil graag ’n verskil in vele vroue se lewens maak tydens haar deelname aan dié kompetisie. “Ek wil graag ’n stem wees vir vroueregte, selfvertroue bevorder en ’n positiewe boodskap van selfliefde en aanvaarding aan elke vrou uitdra. Mev. SA bied die geleentheid aan vroue om hulself te vier en hul stemme te laat hoor.”
Dié skoonheid se spore in die Vrystaat strek ver terug na haar studentejare en soektog na werk daarna. “Ek het hierdie idee gehad van ’n voorbladgesigkompetisie vir die tydskrif Get It. Nog baie onervare het ek ’n voorlegging aanmekaar probeer slaan,” onthou sy laggend.
“Op René Koen van Mahareng se aanbeveling het ek daaraan gaan skaaf en verbeteringe aangebring. Só is die eerste voorbladgesigkompetisie vir Get It op die been gebring!” Hierdie projek van haar is toe kort daarna gevolg deur ’n werksaanbod van Get It en Bloemfontein Courant.

Sy is ’n bron van inspirasie vir elke vrou in Suid-Afrika. Foto verskaf
Badenhorst sê een van haar grootste seëninge in die lewe is haar verhouding met haar identiese tweeling, Jo-Lee van den Berg. “Sy is só ’n sterk vrou, ook ’n tuisteskepper en ma van twee pragtige kinders, soos ek. Sy staan bankvas agter my in hierdie kompetisie en beskou haarself as my héél grootste ondersteuner. Sy woon letterlik om die draai van ons en is altyd beskikbaar wanneer ek raad nodig het.”
Vir dié pragtige semifinalis, wat ook lank betrokke was by OFM se advertensieverkope, is die hedendaagse vrou in Suid-Afrika ’n toonbeeld van selfversekerdheid en selfstandigheid.
“Sy streef daarna om haar eie identiteit en doelwitte in die lewe te vind.” En so is Kay-Lee Badenhorst inderdaad ook vir almal om haar ’n bron van inspirasie, wat deurentyd ’n aktiewe rol in die samelewing, hetsy deur haar loopbaan, haar gesinslewe of gemeenskapsbetrokkenheid speel.
OFM Nuus/Elsabé de Jager cg
