On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Grondbesetting by Bloemfontein ‘is ’n politieke slenter’

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 17:28 Sat, 02 Mar 2024

Grondbesetting by Bloemfontein ‘is ’n politieke slenter’ | News Article
Sosiale media gebruikers het opgemerk dat luukse voertuie gebruik word om onwettige grondbesetters aan te ry. Foto: SABC-skermgreep

“Hierdie het egter niks met grondtoekenning te doen nie. Dit is ’n politieke slenter.”

Ontstoke Bloemfonteinse inwoners word gevra om nie paniekerig te raak nie en om weg te bly uit die gebied terwyl daar klaarblyklik ’n grootskaalse, georganiseerde grondbesetting in die suide van die stad plaasvind. Die oprigting van onwettige strukture langs die Jagersfonteinpad het Vrydagaand (1/3) begin.

Bekommerde inwoners het video's op sosiale media geplaas van honderde gesinne wat onwettig  grond beset langs Lourierpark en naby Pellissier in die suide van Bloemfontein.


Wat talle inwoners die meeste ontstel, is dat dit nie lyk asof die polisie of owerhede die grondbesetters probeer verhinder nie. Grondbesetters sê op hul beurt hulle het nou lank genoeg gewag op owerhede om persele aan hulle toe te ken.

’n Inwoner van Pellissier meen dit is ’n politieke slenter van die ANC voor die komende verkiesing. Foto: Skermgreep/SABC 

“Dis die ANC,” het ’n inwoner van Pellissier aan die SABC gesê. “As ’n inwoner wat hier bly en as ’n swart persoon wat die uitdagings van swart mense verstaan ten opsigte van die grondkwessie, ondersteun ek die feit dat mense grond gegee moet word om hulself op te vestig. Hierdie het egter niks met grondtoekenning te doen nie. Dit is ’n politieke slenter. 

‘Dit is ’n poging om in die komende verkiesing die wyk van die DA te wen nadat hulle reeds die afgelope 15 jaar sukkel om dit te doen’

“Die mense wat hierheen gestuur is, is deur vier ANC-raadslede gemobiliseer. Hulle is uit ANC-wyke in Mangaung verskuif en spesifiek hierheen gebring omdat die wyk deur ’n wit DA-raadslid gelei word. Dit is ’n poging om in die komende verkiesing die wyk van die DA te wen nadat hulle reeds die afgelope 15 jaar sukkel om dit te doen. Dit is polities gemotiveerd. 

“As dit deur enige ander politieke party gedryf was, sou hierdie mense al binne 30 minute verwyder gewees het.”

Die DA se raadslid David MacKay van Wyk 18 in Bloemfontein het in ’n video gesê die onwettige aksie is deur vier raadslede beplan.


Die Mangaung Metromunisipaliteit (MMM) het in 'n mediaverklaring die grondbesetting langs Lourierpark ten sterkste veroordeel. “Al die betrokke departemente van die metro is teenwoordig om assesserings te doen en in te gryp. Die MMM-grondbesettingseenheid en Menslike Nedersettings het ’n saak aanhangig gemaak. Dit sal ons wetstoepassingspan én die SAPD help om hul verantwoordelikhede op die terrein uit te voer,” het die MMM se woordvoerder, Qondile Khedama, gesê.

Hy het bygevoeg dat alhoewel die munisipaliteit ’n grondwetlike mandaat het om te verseker dat alle burgers hul basiese regte kan geniet en gemagtigde toegang tot grond en behuising kry, is hulle ook verplig om in te gryp waar onwettige grondbesettings plaasvind.

Die DA verwag dat die MMM Sondag of Maandag ’n dringende uitsettingbevel sal bekom om die grondbesetters te verwyder.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.