Central SA
Meisie (11) van Orkney kort dringend suurstofmasjien─── ZENANDE MPAME 11:38 Tue, 05 Mar 2024
“Sy het net ’n 40%-longkapasiteit.”
Corene Prinsloo van Orkney samel geld in om ’n suurstofmasjien vir haar dogter te koop. Sy reël ’n gholfdag vir Vrydag 22 Maart by die Orkney-gholfklub.
Longkanker is in Oktober verlede jaar by Dominique Prinsloo (11) gediagnoseer nadat sy baie pyn gehad en bloed gehoes het tydens ’n balletoefening. Haar ma, Corene, het haar na die dokter geneem. Sy het kort daarna met behandeling begin.

Dominique Prinsloo voor sy met behandeling begin het. Foto verskaf
“Haar toestand is kritiek, maar sy is tans stabiel. Haar hele lewe het tot stilstand gekom omdat sy voorheen ballet gedoen en sokker gespeel het. Ná haar diagnose het alles verander en die grootste skok was dat sy al haar hare verloor het,” sê Corene.

Dominique Prinsloo is voltyds afhanklik van suurstof. Foto verskaf
“Vir ons as gesin is dit ’n groot aanpassing, en ons probeer sterk bly vir haar. Ons beplan om ’n gholfdag te hou, en die geld daarvan sal gebruik word om vir haar ’n nuwe suurstofmasjien te kry. Die een wat sy nou gebruik, het ons geleen, en dit is te oud.”
Klerksdorp Rekord berig Dominique word in die Baragwanath-hospitaal in Johannesburg behandel. Sy het net 40%-longkapasiteit. ’n Nuwe of tweedehandse suurstofmasjien kos sowat R25 000. Gholfspelers en borge kan ’n putjie borg vir R1 800.

Gholfspelers kan by die Pro Shop in Orkney bespreek. Foto: Orkney Gholfklub/Facebook
“Ons vra mense om asseblief in te skryf om by die gholfdag te speel, want ons het baie spelers nodig,” sê Corene.
OFM News/Zenande Mpame dg/cg
