On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Man van Potchefstroom gaan speke laat sing vir dierewelsyn

───   KAREN VAN DER BERG 16:02 Wed, 06 Mar 2024

Man van Potchefstroom gaan speke laat sing vir dierewelsyn | News Article
Shaun Leach is ’n ywerige fietsryer en gaan eersdaags ’n afstand van 1600km aflê om geld vir PAWS Potchefstroom in te samel. Foto verskaf

“Ek doen dit heeltemal op my eie. Ek neem alles wat ek nodig het saam met my en daar is geen ondersteuningsvoertuig wat saam met my ry nie.”

’n Mens lewe net een keer en jy moet soms uit jou gemaksone uit kom.

So sê Shaun Leach (40), eienaar van Le Tour Cycles in Potchefstroom, wat eersdaags die afstand van 1600 km per fiets van Vanderbijlpark tot in Bloubergstrand gaan ry om geld en skenkings vir PAWS, die dierewelsynsorganisasie, in te samel.

Hy beplan om op Saterdag 16 Maart weg te spring en die rit binne sewe dae af te lê.

“Ek doen dit heeltemal op my eie. Ek neem alles wat ek nodig het saam met my en daar is geen ondersteuningsvoertuig wat saam met my ry nie. Ek neem kos, water en gereedskap saam.”

Shaun Leach is ’n ywerige fietsryer en ’n groot diereliefhebber. Foto verskaf

Hy sê die afstande wat hy beplan om af te lê wissel elke dag. Die meeste wat hy op een dag gaan aflê, is 250 km en die minste is 134 km.

“Ek gaan net op grondpaaie ry en sien vreeslik uit daarna om die skoonheid van die land te beleef en die wonderlike mense langs die pad te ontmoet.”

Een van die grootste redes waarom hy ry, is om hom uit sy gemaksone te haal, “maar ek kan nie wag om alles te sien wat ’n mens nie altyd uit jou kar kan sien nie. Mense besef nie altyd hoe bevoorreg ons is om in so ’n ongelooflike mooi land te bly nie.”

Hy ry ook omdat dit iets anders is. “Dit is baie langer afstande en dis baie meer uitdagend. Dit laat jou besef dat jy jou liggaam harder kan druk en verder kan gaan as wat jy daagliks doen.”

Shaun sê nog ’n rede is om geld en skenkings vir PAWS in te samel. “Hulle doen wonderlike werk in ons gemeenskap en dit is net ’n manier om dankie te sê en terug te gee. Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor die diere.”

Hy sê ’n mens is ’n troeteldier se hele lewe. “Maar hulle speel so ’n groot rol in mense se lewe en om ’n troeteldier te hê is so vervullend. Ek het drie honde en my skaaphond gaan elke dag saam met my werk toe. Sy voel my emosies aan en het die manier om enige moeilike dag om te draai. Ek wil graag op die manier ’n verskil maak in hulle lewe.”

• Shaun gaan ’n opsporingstelsel hê en mense kan sy reis op Le Tour Cycles se Facebook-blad volg. Daar is ook inligting oor hoe mense kan bydra tot PAWS.

OFM Nuus/Karen van der Berg 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.