Central SA
Grondbesetting in Bloemfontein ‘doelbewus, georganiseer’ – politieke ontleder─── 16:53 Wed, 06 Mar 2024
"Daar kan verkiesingsvoordeel uit hierdie konflik getrek word.”
'n Grondbesetting het vanaf Vrydagaand (1/3) in Bloemfontein plaasgevind en daartoe gelei dat groot areas langs die R706, van Pellissier tot Lourierpark, tans onwettig bewoon word. OFM Nuus se Dane Beisheim het met die politieke ontleder en kommentator prof. André Duvenhage gesels oor die politieke implikasies hiervan.
Duvenhage meen die feit dat inwoners van Thaba Nchu en Mangaung na hierdie Bloemfonteinse woonbuurt vervoer is, dui op ‘n doelbewuste, georganiseerde poging om die grond te beset.
“Ek verstaan daar het al skote geklap. So daar's toenemende tekens van burgerlike verset. Met ander woorde, wetgehoorsame burgers wat hulle mobiliseer teen persone wat net grond onwettig beset. En daar kan verkiesingsvoordeel uit hierdie konflik getrek word.”
Duvenhage verduidelik verder hoewel raadslede dalk nie nou direk voordeel uit so ‘n slenter sal put nie, dat hulle wel bepaalde politieke simpatie kan geniet deur die grondbesetting toe te laat.
“Die risiko met hierdie strategie is dat dit wel kan lei daartoe dat daar groot konflik met ander dele van die samelewing is.”
Hy sê verder dat die voorval nie uniek in Bloemfontein is nie, maar ook gereeld in talle omgewings plaasvind, veral naby stedelike omgewings waar daar groot behuisingsnood is.
“Wat ek dink hier belangrik is, is dat dit omskep word in 'n tipe veranderingstrategie en dat, in die aanloop tot die verkiesing, daar baie nuwe aandag daaraan gegee word en dat wetlike prosesse en wetstoepassing as't ware dikwels skik na aanleiding van politieke prosesse.”
OFM Nuus/Dane Beisheim cg

